Saturday, 28 January 2012

Vry soos voels


Dag 23 – 23 Januarie 2012
Safaga, Egipte

Ons is vroegoggend reeds in die pad. Die opgewondenheid om eindelik met ons eie voertuig te kan ry, is oorweldigend. 


Die nommerplaat wat met bietjie kreatiewiteit en baie moeite vasgemaak is.

Ons is effens gedruk vir tyd. Ons moet by Urs en Beatrice uitkom in Aswan sodat ons 'n plek op die veerboot en vragskip kan bespreek van Aswan na Wadi Halfa in Sudan. Ons wil ook sover as moontlik vermy om die 25ste Januarie op die pad te wees. Met die 1 jaar herdenking van die revolusie, wil ons nie enige kanse vat nie.

Ons kies die kuspad al langs die rooisee. Die turkoois see is kristal helder, die skoon water ‘n vreemde sig in die besoedelde land waaraan ons gewoond geraak het. Honderde vakansie oorde staan op ‘n ry tussen Suez en Zafarana. Daarna verander dit na stowwerige woestyn aan die een kant, en die rooisee aan die ander.

Namiddag loer ons by Hurghada vir slaapplek. Dit is ‘n toeriste-lokval met luukse hotelle en vakansie oorde wat die plek volstaan. Anders as die res van die Egipte, wemel dit met buitelanders. Dis die perfekte plek vir ‘n familie vakansie, veral vir duikers, maar nie wat ons nou nodig het nie. Ons ry eerder bietjie verder na die volgende dorpie.


By Hurghada 

Jy sal nie sommer Safaga op jou moet-besoek lysie kry nie. Daar is niks te sien in die gevrekte dorpie nie. Die mooi kus is weggesteek agter industriele geboue, en die dorpie het ‘n gebrek aan karakter en atmosfeer. Ons kry nie eers ‘n eetplek in die kort hoofstraatjie nie. Ons is amper oppad terug na Hurghada, toe ons die geroeste bordjie van Nemo’s Hotel gewaar.

Nemo’s is ‘n klein juweel in Safaga. Daar is net twee ander gaste, duikers van Holland, ingeboek. Aandete sit die die vier van ons sommer saam met hotelbestuur aan een tafel en eet. Bordspeletjies en Xbox word na die tyd gespeel om die tyd verby te kry. Ons leer vinnig dat as jy nie duik nie, daar regtig niks anders hier te doen is nie.


Nemo's het 'n lieflike uitsig oor die rooisee, definitief die moeite werd na 'n lang dag se ry.

No comments:

Post a Comment