Dag 9 – 9 Januarie 2012
Alexandria, Egipte
Dis tyd om klere te was. Na ‘n kort soektog deur die strate, modderig van gisteraand se reen, kry ons ‘n plekkie waar die dame darem engels praat.
Ons opsies ten opsigte van toeriste-vermaak in Alexandria raak beperk. Bygese, monument moegheid ontwikkel vinnig. Ons belangstelling in museums, ou geboue en ou grafte is naby aan versadig. Ons almal sien uit om die bedrywige stad te verruil vir moeder natuur. Alhoewel die woestyn ‘n uitdaging gaan wees, verwelkom ek die verandering.
Ons spandeer die res van die dag met navorsing vir die volgende paar dae van ons reis. Sodra ons Urs se voertuig kry, gaan ons die Westelike Woestyn aandurf oppad na Luxor. Met beperkte sitplek, gaan die rit ongemaklik wees, maar ons is gretig om aan te beweeg en meer van Egipte te sien voor ons tyd uithardloop.
Die gidse, kaarte en google, verander na leesboeke, en dan in ‘n middagslapie. Wanneer almal ontwaak kyk ons sommer fliek in die hotel kamer voor ons om die draai by Chili’s gewone westerse kos eet.

No comments:
Post a Comment