Dag 12 – 12 Januarie 2012
Alexandria, Egipte
Die wind fluit ongenooid deur die skrefies van die toe balkonskuifdeure terwyl ek en Bea geduldig pak. Urs en Peter is reeds by die hawe waar hul in spanning, reen en hael staan en wag vir Urs se voertuig. Teen 1uur, het hul nog niks bereik nie. Al die papierwerk is afgehandel, dit is net die wag wat oorbly. Ons hoor van ‘n man wat al 9 dae lank elke dag by die hawe staan en wag om sy voertuig te kry. Dit help nie juis met die senuwees nie.
Teen 4uur die middag spring ek en Beatrice op en af toe ons die goeie nuus kry. Peter en Urs is oppad terug, met die kar!
Verligting! Uiteindelik Urs se Toyota na die lang wag.
Ongelukkig sal daar nie genoeg tyd wees vir ons om deur die woestyn te ry nie. Peter moet reeds die 14de sy paspoort vir Sameh gee in Port Said, net om die hele proses te herhaal vir Peter se bakkie wat dieselfde dag per skip daar behoort te arriveer.
Ons besluit om almal more oggend in die Toyota te spring, en solank Port Said toe te ry. Aan die een kant is ons so dankbaar dat ons uiteindelik ‘n voertuig het, maar aan die ander kant effe frustreerd dat Egipte se burokrasie ons so beperk. Hopelik sal ons nog genoeg tyd he na ons Peter se bakkie kry, om van die woestyn te sien, en ook by Luxor en Aswan tyd te spandeer.

No comments:
Post a Comment