Dag 18 – 18 Januarie 2012
Port Said, Egipte
Ons oggend verloop weer rustig terwyl ons wag dat Sameh Peter se paspoort kom haal. Twaalfuur hoor ons die klop aan die deur. Elke bietjie kontak met Sameh gee ons nuwe hoop dat die bakkie gouer eerder as later ontslaan word.
Kort daarna is ons oppad stad toe, om Port Said se beperkte toeriste-aantreklikhede te besigtig.
Ons vind geen gebou onder die kol op die kaart waar die Nasionale Museum behoort te wees nie. Na verdere navraag vind ons uit dat dit platgeslaan is, daar word ‘n nuwe een opgerig. So daar gaan die doel vir die dag se uitstappie by die venster uit!
Ons gaan sien die Suez Port Authority gebou wat baie indrukwekkend lyk van die kanaal af. Oppad loop ons weer ons tandlose perdekoets drywer raak wat ons herken en wild met sy arms beduie. Ons kan nie uitmaak wat hy se nie, hy skel ons seker weer uit. Ons waai vriendelik terug en stap aan. By die Suez Port Authority mag ons net ‘n foto by die hekke neem, ons mag nie eers kameraloos deurstap nie. Nog ‘n idée daarmee heen!
Ons laaste probeerslag vir vermaak vir die dag is ‘n bootrit na die Tannis eiland in Manzala Meer, waar ons na ‘n paar monumente kan gaan kyk.
Die aroma van ‘n geroosterde swarma by El Khediwy val ons in die rede, waar ons stop vir middagete. Wanneer ons meer inligting by die kelner probeer kry oor Tannis eiland, raai hy ons summier af om te gaan. Dis blykbaar onveilig, nie eers die inwoners gaan meer daarheen nie. So daar is ons laaste opsie vir vandag se vermaak in vlamme neergeskiet.
Die lekkerste swarma's, sommer so op die sypaadjie.
Ons geniet wel hierdie kant van Port Said. Ons wandel deur die bazaar, en kyk na al die vars vis, groente, speserye en vrugte wat hier te koop is.
Jy kry selfs vars seeskilpad by die visstalletjies! As ek kon, sou ek vir Skillie koop en vrylaat in die see.




No comments:
Post a Comment