Wednesday, 25 July 2012

Mak kameelperde en baba olifantjies


Dag 70 -  76
10 – 16 Maart 2012
Nairobi, Kenya

Nairobi het my aangenaam verras. Die gesofistikeerde stad, waar ons ordentlike inkopiewinkels en lekker eetplekke kry, is verfrissend. Die stad is mooi gemaak, die strate is netjies, en alhoewel verkeer rof kan raak, gehoorsaam meeste mense die padtekens. In die residentiele gebiede, alhoewel omheinings maar hoog is, is die mense ernstig oor tuinmaak en mooi sypaadjies voor hul huise. Hier is ‘n groot westerse gemeenskap, so vir die eerste keer in ‘n lang tyd is ons nie ‘n teiken nie, en word ons in vrede gelaat.

By Jungle Junction kamp ons vir spotgoedkoop. Ons kan die groot huis se gemaklike sitkamer, eetkamer en kombuis gebruik terwyl ons buite op die grasperk kamp. Al die resigers kuier saam soos ‘n groot familie.


Ons raak gemaklik in die hoekie van Jungle Junction se tuin. 

Terwyl ek en Peter die spyskaart van ArtCafe bestudeer – die weie verskeidenheid is intimiderend – spoor Peter sy ou vriend op wat 10 jaar gelede in Nairobi gewerk het, en toevallig op ‘n vlug hierheen oppad is. Mike sorg vir goeie geselskap, en ken al die lekker restaurante.

In die middestad moet ons by Immigrasie kantoor aanmeld om toegang stempels in ons paspoorte te kry (aangesien daar geen grenspos was waar ons deurgery het nie), die kar moet gediens word, en dan moet ek ook aansoek doen vir ‘n visum na Rwanda. Maar anders as dit het ons hope tyd om te ontspan en die gesofistikeerdheid van Nairobi te geniet.

Om mak kameelperde te voer by die Kameelperd Sentrum was definitief ‘n hoogtepunt. Jy kry ‘n handvol hondepilletjies wat jy een vir een uithou sodat die kameelperd dit met sy lang tong oplek. Hy gee ook nie om as jy sy lang nek omhels nie. Dis bietjie van ‘n stryd met al die ander toeriste, maar waar anders kan jy ‘n kameelperd se kop vryf?


Kameelperd vrek oor ‘n hondepilletjie


Baba kameelperdjie kom nog nie lekker by die tweede vloer uit om gevoer te word nie.

By die David Sheldrick Wildlife Trust se sentrum vir wees-olifantjies, kan ons aanskou hoe die baba grootvoete gevoer word. Aangesien hul eendag moet teruggaan veld toe, mag toeriste net 1 uur per dag hul besoek.


Wanneer hul klaar ‘n bottel melk gedrink het, is dit speeltyd. ‘n Lekker modderbad en takke rondsleep is in orde.

Na ‘n week in Nairobi, pak ons weer op en pak die lang pad aan.