Saturday, 18 February 2012

Eendag lank, lank gelede


Dag 37 – 39
6 – 8 Februarie 2012
Gonder, Ethiopie

By die grensposte tussen Sudan en Etiopie, Qallabat  en Matema, vrek ons van die hitte. Daar is honderde mense wat heen en weer tussen die twee lande loop, maar tog is ons die enigstes wat aanmeld by immigrasie en doane. Ons moet ‘n rukkie wag vir die amptenaar om klaar te maak met sy middagete, maar anders as dit verloop alles glad.

Die pad na Gonder raak mooier hoe verder ons ry. Bome en gras raak meer en meer soos ons op en op met die bergpas ry. Die temperatuur koel ook genadiglik af hoe verder ons wegbeweeg van seespieel.

By Belegez Pension is al die kamers reeds volgeboek, maar ons word toegelaat om saam met ons voertuie in die vierkant te kamp. Daar is geen water of elektrisiteit vandag nie, so ‘n stort sal moet wag tot more.


Ons kamp in die vierkant van Belegez Pension

Gonder is presies soos die gids dit beskryf – dis die plek waar sprokiesverhale vandaan kom. Al langs die klipstraatjies stap ons na die verbeeldingryke kastele van die Atse Fasil Compound.


Een van vele sprokieskastele

Die ou Debre Birhan Selassie Kerk het kleurvolle prentjies aan die mure wat bybelstories vertel. Dis nie presies soos ons Bybel nie alhoewel daar baie ooreenkomste is.


Die kerk van buite.



Van die tekenprentjies aan die mure, en die gesiggies in die dak wat permanent ‘n ogie hou oor al die besoekers. Die is honderde jare oud.

Fasiledas se bad is waarvan ek kleintyd gedroom het. ‘n Groot kasteel, omring met water, toegang net moontlik gemaak deur ‘n klein bruggie na die ingang. Die eeue oue bome met wortels in die kliprante geanker, omring die swembad waar Fasiledas gebad het. Die water is wel nou weg, maar jy kan indink hoe dit lank gelede moes gewees het.


Fasiledas se bad, die water word opgevul tot teenaan die onderkant van die balkon.


Die bome wat die swembad omring.

Alles van Ethiopie is vreemd en anders as die res van Afrika, en seker die wereld. Eerstens, volg hul hul eie kalender. Dit is nou eers 2004 hier, ons paspoorte is nog nie eers geldig nie, en ek is nog nie klaar met skool nie.

Hul horlosies hou tyd met die son. In die oggend om 06:00, wanneer die son opkom, is dit 12uur. Een uur na sonopkoms, is dit 1uur, twee ure na sonopkoms, is dit 2uur, ensovoorts. 18:00 wanneer die son ondergaan, is dit weer 12uur. Een uur na sononder is 1uur, en so gaan die patroon aan.

Die Etiopiese spyskaart is ‘n ondervinding op sy eie. Injera, ‘n groot pannekoek wat van suurdeeg gemaak is, word saam met alle disse bedien. En met suurdeeg bedoel ek, dit proe of hul ‘n bottel asyn by elke pannekoek gooi. Net so is dit regtig sleg. Maar saam met die vleisdisse in verskillende branderige souse (hul is lief om chillies by alles te gooi), is dit ‘n heerlike kombinasie, waarvan mens nie genoeg kan kry as jy eers gewoond raak nie. Hul het ook   lekker vegetariese verskeidenhede wat saam met injera bedien word.


 Ethiopie se nationale dis


Die Vier Susters Restaurant is ‘n uitstekende eetplek. Die vier dames is baie vriendelik en spontaan en sorg vir ‘n uitstekende Etiopiese ondervinding.

Vars vrugtesap kafees is ook om elke hoek en draai te sien. Hope mango's, pynappels, papaja's en avokadopere word versap en in ‘n groot bierglas bedien saam met ‘n skyfie suurlemoen. Die avokadopeer en mango mengsel is ‘n gunstelling. Alhoewel ek skepties was vir die vreemde kombinasie, was ek aangenaam verras met die interessante drankie.


Die avokadopeer en mango sap

Ek is in ekstase om ‘n slag ‘n Cappucino te drink – iets wat maar skaars was in Egipte en Sudan. Maar my eerste Cappucino het geen koffie in nie, dis net ‘n sjokolade drankie, alhoewel dit ook baie lekker is. Ons leer eers baie later dat jy vir ‘n Macchiato moet vra as jy ‘n Cappucino wil he.

Te veel kilometers, te min tyd


Dag 36 – 5 Februarie 2012
Kassala, Sudan

Ons wou oorspronklik twee nagte by Sudan Red Sea Resort oornag, sodat Urs, ‘n entoesiastiese duiker, die water vandag kan toets. Ons kan snorkel en swem, of onsself besig hou. Maar die wind waai vandag woes, en almal is eintlik bietjie geirriteerd, so ons is baie verlig wanneer Urs terug kom en laat weet dat die duikgereedskap nie op standaard is nie. Ons pak vinnig op en val maar weer in die pad.


Kilometers van woestyn, hier is ‘n paar bossies darem in sig

Ons het gemik vir Gedaref, maar het te laat weggekom, so Kassala is die volgende beste plek om te oornag. Ons sukkel eers vir ‘n half uur om in die dorp te kom. By die sekuriteietspunt, moet ons weereens ons paspoorte uithaal. Die man wil ons eers nie inlaat nie, omdat ons Khartoum as ons bestemming op ons reistoestemmeingsvorm ingevul het. Maar na ‘n halfuur se wag, laat hy ons darem deur.

More oggend vroeg ry ons na Ethiopie. Ek sien uit om ‘n volgende land te besoek. Sudan is ver van jou ideale vakansie bestemming, daar is regtig nie veel te sien nie. Maar die mense maak blykbaar die plek baie spesiaal. Ons het ongelukkig te vinnig deurgery om inwoners te ontmoet, tyd met hul te spandeer en hul gasvryheid te beleef en te waardeer.

Toeskouers


Dag 35 – 4 Februarie 2012
Port Sudan, Sudan

Vroegoggend, nog voor iemand by die Meroe Piramides is om toegang geld te vra, loop ons daar rond en neem fotos.


Die Piramides se bokante is almal vernietig. Nadat ‘n Italianer baie jare terug skatte in een ontdek het, het hy die res se toppe ook afgekap, alhoewel hy geen in die res gevind het nie.


Woestyn blommetjie (ek ken nie plante goed nie)

Ons beplan om vanaand by Sudan Red Sea Resort te oornag. Dit is Rami & Rashid se ecolodge, net buite Port Sudan. Alhoewel hul nie daar gaan wees nie, wil ons steeds gaan kyk wat daar aangaan.

Die ry soontoe is nog minder opwindend as die vorige dag.


Wanneer ons hierdie lekker koelteboom langs die pad kry, stop ons vir ‘n kort breuk. Ons was eers alleen, maar die nuuskierige Sudanese steek gou kop uit. Hul kom sit langs jou kar soos ‘n gehoor en kyk net wat mens doen. Hul praat nie met ons nie, ook nie met mekaar nie, hul staar net. Urs deel vir elkeen 'n pen uit voor ons ry, waarvoor hul tog so dankbaar is.


Diere het meestal voorkeur op die paaie (hul weet natuurlik nie van beter nie). Hier wag ons geduldig dat die komkommerkoel kamele oor die pad stap.

Laatmiddag kom ons by Port Sudan aan. Ons slaan weer ons tente op, en eet dan by die klein restaurantjie. Sudan Red Sea Resort is ‘n rustige afgelee plekkie langs die rooisee, waar mens kan snorkel en duik. Anders as dit is daar nie juis ander vermaak nie.


Die vet man van Suid-Afrika


Dag 34 – 3 Februarie 2012
Meroe Piramides, Sudan

Ons paadjies skei vandag wanneer al die reisigers in verskillende rigtings vertrek. Terwyl ons die bakkie buite ons hotel pak, maak Billa, die hotel bestuurder geselsies. Hy praat met iemand oor sy selfoon, en laat weet dan ons moet sy vriend in Karima bel, hy kan ons help met blyplek as ons daar wil oornag. Wanneer Peter die man se nommer neerskryf, se Billa sy vriend weet van hom, hy het reeds die vet man van Suid-Afrika in Wadi Halfa gesien. Peter lag net te lekker.

Saam met die Jordaniers was ons die enigste gaste in Billa se hotel. Wanneer hy die hoteldeure agter ons sluit, wys hy vir ons waar hy die sleutel sommer op die vensterbank bere. Ons kan net oopsluit as ons iets binne vergeet het.

Die dag se ry is lank, warm, en nie baie opwindend nie. Dele van die woestyn is prentjie mooi, met die kleure wat verander soos mens vorder, maar dan verander dit gou weer na kilometers van niks.

Uiteindelik by die Meroe Piramides is die son al amper onder. By die Italiaanse kamp is baie duur permanente tente opgeslaan, omskep in luukse kamers met private badkamers. Wanneer Denise, die Italiaanse bestuurderes, ons toestemming gee om net buite te kamp, teen geen koste nie, slaan ons net daar ons tentjies op. Met ons tone in die sand, kamele wat rondom ons hardloop en ons kampstoele net betyds uitgepak, kyk ons na die son wat agter die piramides sak.


Ons kamp net buite die Italiaanse kampplek


 Die son wat agter die piramides in die verte sak

Vreemde klanke


Dag 33 – 2 Februarie 2012
Dongola, Sudan

In Wadi Halfa sit ons nog rustig op die sypaadjie en kou aan felafels vir ontbyt wanneer die voertuie een na die ander van doane verby gery kom. Met net ‘n halwe dag se ry oor, is Dongola ons oornag stop. Ons hele groep reisigers ry sommer in konvooi saam.


Pad tussen Wadi Halfa en Dongola


Ons haal die fietsryers in. Ons het hul op die veerboot ontmoet. Hul durf die reis deur Afrika per fiets aan. Baie respek vir hul!

Na ons ingeboek het en aandete geeet het, vaar ek, Peter en Darren die strate in. Dit is reeds laat en doodstil. Ons probeer by die bron van die ritmiese klanke wat ons in die verte hoor uitkom. Eindelik kom ons op drie groepe Sudanese af, wat onafhanklik van mekaar hul eie musiek maak, met ritmiese dromme, simbale en herhalende aanbiddende krete. Dit maak ‘n melodie, vreemd vir ons ore, maar so strelend. Ons staan ‘n uur lank en luister na die interessante musiek.

By Darren se hotel, drink ons ‘n koppie tee voor ons terugkeur na ons s’n. Die hotelman verduidelik dat die singery ter voorbereiding is vir Mohamed, die profeet, se verjaarsdag, die 5de Februarie.

Ek en Peter stap dan deur die pikdonker straatjie na ons hotel. My hart klop in my keel wanneer ‘n kwaai gewapende sekuriteitswag op elke hoek ons voorkeer en vra waarheen ons oppad is. Daar is ‘n groot kommunikasie gaping, hul praat nie goed engels nie, en verstaan nie wat ons probeer beduie nie, en wil ons nie laat gaan voor hul verstaan nie. Hierdie deel van Sudan is een van die veiligste plekke in Afrika, maar die ervaring was effens onaangenaam en intimiderend. 

Woestynvlinders


Dag 31 – 32
31 Jan – 1 Feb 2012
Wadi Halfa, Sudan

Dou voor dag word ons wakker op die veerboot. Ons bewonder die massiewe tempel op die rivierbank by Abu Simbel wat ons net-net in die oggendlig kan sien. Ons kry ons paspoorte gestempel en reistoestemming ingevul deur die loop van die oggend op die veerboot.

Met ons aankoms in Wadi Halfa, boek ons saam met die res van die oorlandreisigers by Kilopatra hotel in, die beste in die dorp. Dit haal skaars een ster, maar die beddens met papierdun matrassies, badkamers (wat almal deel) en ‘n koue straal druppels vir ‘n stort is genoeg om te oorleef. 

Ek moet gou leer om met my grootste nagmerrie te leef: hurk-toilette! ‘n Gat in die grond, met twee verhewe plekkies vir jou voete om wydsbeen oor die gat te hurk. Aaklig. Hierdie een kan darem spoel. Jy mag ook nie jou gebruikte toiletpapier in die gat gooi nie. Die hoort in die drommetjie langsaan.


Kilopatra Hotel is die een met die geel deure agter die blou-grys gebou in die middel.

By die eerste beste eetplek, moet ons met die vliee baklei vir ons middagete. Die kos is verbasend lekker, as jy ignoreer hoe enige oorskiet vleis van die tafel teruggegooi word in die swarma mengsel, en hoe die pita broodjies met vuilerige hande op die taai toonbank hanteer word. Die felafels met branderige sous, swarma’s en fhuul ('n tipe rooiboontjiebredie) is ons stapelvoedsel vir die volgende drie dae. Geroosterde hoender is ook gewoonlik ‘n veilige keuse is.


Ons gunstelling eetplek

Ons is ‘n lekker groep reisigers wat vir twee nagte moet wag vir ons voertuie. Die geselskap maak die wag heelwat meer aangenaam. Eers moet ons voldoen aan Sudan se vele administratiewe vereistes. Na ons registreer as buitelanders, moet ons ook fotopermitte kry voor ons mag fotos neem.

Ons kuier die tyd om op die gesellige sypaadjies. Die inwoners kom hier saam om sheesha te rook, tee te drink en te eet. In die aande word die klein TV op die sypaadjie aangesit en die sitplekke word gou opgeneem om WWE te kyk.

Die volgende dag stap ons al langs die meer, die groen mos en fyn grassies verdwaal in die krake van die woestyn.


Die meer


Groen gras groei daar waar bietjie water is


Langoor in die landerye naby die meer


Gestrande boot in die middel van die woestyn

Die nedersetting daar naby, se vaal modder hutte is gekamoefleer in die woestyn. Die kindertjies kom nuuskierig nader en daag mekaar uit om aan ons te raak. Hul skaterlag wanneer jy hul handjies skud en hardloop dan vinnig weg. Die fraaie dames is bont geklee in vrolike vloeiende lappe, soos skoenlappers in die woestyn. Hul sit in stilte teen die hut en hou die kinders dop. Die klein dogtertjies om hul voete, skaars 5 jaar oud, het elk ‘n baba op die heup, boeties en sussies wat hul help oppas.


Die vroue dra die mooiste gekleurde lappe


Darren vermaak die kindertjies

Die aand voor ons ry, durf ons die koppie aan om die sonsondergang te sien. Die son sak te vroeg agter die stofwolk in die verte, maar die uitsig bly mooi. Wadi Halfa strek verder as wat ons gedink het. In die stilte luister ons na die hoenders in die verte, die donkies wat bulk, en ‘n toektoek wat onder in die hoofpad aangejaag kom.


Uitsig van die koppie – Wadi Halfa se hoofstraat

Dis so ‘n eenvoudige, rustige lewe, dit laat jou wonder hoekom jou eie so bedrywig en gekompliseerd is.

Thursday, 16 February 2012

Bokke in 'n kraal


Dag 30 – 30 Januarie 2012
Erens op die Nasser meer, Egipte

Al wat op vandag se agenda is, is om op die passasiersveerboot te klim, en die rit te oorleef. Die hawe is ‘n vertrapping. Honderde Sudanese met tonne bagasie staan tou om op te klim.

Ons is dankbaar vir Kamal se hulp, ‘n waardevolle kontak voorgestel aan ons deur die Jordaniers. Hy kry ons relatief vinnig deur doane, alhoewel ons moeilik beweeg met ons bagasie. Met geen kennis of verwagting van Wadi Halfa se fasiliteite nie, het ons seker gemaak dat ons genoeg inpak vir drie dae se eet, drink en warm slaap totdat ons weer die voertuie kry.

Met skouers wat al kramp, en rue wat wil afbreek, moet ons koes vir ons lewens vir massiewe bokse wat die Sudanese bukkend en met mening op hul rue aandra. Hier kyk jy vir jouself uit. As jy nie die aankomende boks sien kom nie, is dit jou eie skuld as jy seerkry.

Op die boot, druk vyftig mense gelyktydig van weerskante deur dieselfde klein deurtjie. As jy eers in is moet jy oppas om nie doodgedruk te word nie. Die gangetjies is nou, bedompig en jy het minder plek as die spasie wat jou eie liggaam opneem om in te beweeg. Rami, een van ons Jordanier vriende, was nie ver van verkeerd toe hy spot dat die boot gemaak is vir diere, en nie vir mense nie. Ek is seker aangejaagde bokke beweeg meer grasieus deur 'n kraalhek as wat mense vandag hier gespartel het.

Ek word vir twee ure op ‘n klein benoude bankie toegepak met bokse en bagasie terwyl die ander ‘n plekkie op die dek vir ons probeer oophou. Wanneer die agterdeur waar ek sit eindelik ook oopgesluit word, is dit soos ‘n bom wat in ‘n miernes ontplof. Die mense peul by die deur uit, bagasie en mense klim en klouter heen en weer oor bagasie, bokse en nog mense.

Buite op die dek het Peter ‘n lieflike afgebakende plekkie onder die lewensredderbootjie uitgehou saam met Darren, ‘n rugsakreisiger wie ons vroeer by doane ontmoet het. Ons kry later waardevolle inligting van hom vir ons reis vorentoe. Hy reis al vir 34 maande lank regoor die wereld, en het sopas deur die lande getoer waarheen ons oppad is.

Ons kamp matrassies is mooi uitgegooi soos piekniek kombersies, ons het ‘n mooi uitsig van die meer en die son wat nou al amper sak, en vars lug in ons longe. As jy nie agter jou kyk na die Sudanese wat steeds saam met hul bagasie, agter ons afbakening ophoop nie, kan jy jou verbeel dis ‘n baie gesellige bootreis.

Ons het van 11 uur die oggend tot 5 uur die middag op die boot gewag voor dit uiteindelik beweeg.


Die uitsig van waar ons op die dek van die veerboot sit, is nie sleg nie.



Almal maak ‘n plekkie vir hulself op die dek. Ons sit in die agtergrond onder die oranje reddingsboot.

Aandete is piekniek, en slaaptyd wanneer dit donker word. Die man langs Peter wen die initiatiefsprys vir oorlewing. In die nou gangetjie slaap hy met sy kop in sy emmer sodat mense nie sy kop raakskop in die verbyloop nie.

Tande kners en naels byt


Dag 28 – 29
28 – 29 Januarie 2012
Aswan, Egipte

Saterdae is kaartjieverkope by die Veerboot-na-Sudan kantoor. Al het Mr Saleh gese die vlot is reeds volgeboek met voertuie, weier ons om nee as ‘n antwoord te aanvaar. Daar is altyd ‘n kans dat iets verkeerd loop met iemand se voertuig of dokumente, en ons wil daar wees as iemand se plek op die volgeboekte vlot gekanselleer word.


Mr Saleh se kantoor

Die stresvlakke loop hoog, en die spanning is tasbaar in Mr Saleh se kantoor waar al die oorlandreisigers rondstaan en wag vir ‘n kaartjie. Ons ontmoet twee Jordaniers, Rami en Rashid, wat een plek op die vlot geboek het vir hul voertuig, twee Hollanders wat hul Landrover moet oplaai, en die Engelsman en sy span met hul twee voertuie. Daar is nog net 1 plek vir ‘n vyfde voertuig, maar dan is die vlot vol.

Na ure se rondstaan saam met die res, en geen kanselasies nie, word ons desperaat. Met die hulp van die Jordaniers, met wie ons teen die tyd al bevriend geraak het, oorreed ons vir Mr Saleh om ons more net ‘n kans te gee om te kyk of altwee ons voertuie op die vlot kan pas. As dit werk, mag ons albei voertuie oplaai.

Namiddag drink ons ‘n glasie wyn om te probeer ontspan. Ons nooi vir Rami en Rashid, die Jordaniers, om saam met ons te eet. Ons kuier lekker en lag nog vir grappies oor hoe ons nog ‘n week in Aswan sal moet wag, terwyl dit nog snaaks is.

Die spanning is nie juis beter die volgende dag nie. Al die reisigers ontmoet by Mr Saleh se kantoor en ry dan in konvooi eers polisiestasie toe, en dan na die hawe.

Ons raak gemaklik in die sonnetjie terwyl ons wag dat almal wie wel ‘n plek op die vlot het hul dokumente gereed kry. In die ure wat ons wag, leer ons die ander beter ken.


Rondstaan en wag by die hawe

Die verligting is groot wanneer Rami en Rashid ure later terugkom en laat weet dat al die voertuie op is, en ons definitief albei ons s’n sal kan in pas. Peter en Urs wikkel om doane prosesse te voltooi, nommerplate af te knip en dan netjies agterop die vlot te parkeer.


Verligting! Altwee voertuie pas netjies agterop die vlot.

Ons vier die goeie nuus saam met Rami en Rashid, en eet die keer by hul hotel aandete. Ons eet onsself trommeldik aan Movenpick se buffet, met die wete dat ons nie sommer weer sulke tafels kos gaan sien nie. More klim ons uiteindelik op die passasiersvlot wat ons na Wadi Halfa in Sudan sal neem.

Peperduur speserye

Dag 27 – 27 Januarie 2012
Aswan, Egipte

Met nog ‘n dag om ons self besig te hou terwyl ons wag vir die veerboot, dwaal ons deur ‘n souq (markie) vir die soveelste keer. Ons is op soek na ‘n speserystalletjie waar iemand vir ons meer kan vertel en verduidelik oor die speserye wat algemeen in Egiptiese disse gebruik word.

Ons kry een waar ‘n vriendelike man ons eers bederf met ‘n yskoue glas vars suikerriet. Die melkerige groen drankie lyk verdag, maar is heerlik soet. Hy neem ons deur sy speserye terwyl ons grondboontjies en gedroogte dadels peusel.

Hy laat ons ruik aan verskillende kruie wat hy in sy hand fyndruk, en meng ‘n unieke Egipties brousel wat ons vir enige dis kan gebruik. Ons kies ‘n paar ander gewone speserye vir wanneer ons self sal moet kook. Ons kan ewe ‘n geskenk uit sy winkel kies, omdat ons blykbaar so vriendelik is. Met al die speserye wat ons nodig het reeds in die sakkie, kies ons maar ‘n kruietee by.

Wanneer Urs die rekening onderhandel, mis my hart ‘n polsslag. Ek dink eers ek hoor verkeerd, maar Urs se gesig bevestig wat ek gehoop het ek verkeerd gehoor het. Die speserye is duurder as ‘n week se uiteet vir ons al vier! Ons voel te sleg om die speserye nie te koop nie, nadat hy so baie tyd met ons spandeer het. Al is dit so duidelik soos daglik dat ons verneuk word, sluk ons dit maar soos ‘n bitter pil. Ons sal maar die heerlik gegeurde kos ekstra lank moet kou om op te maak.


Groot verskeidenheid speserye



Laatmiddag gaan kyk ons na die Philae temple. Dit sit op 'n eiland, so jy moet met 'n bootjie daarheen vervoer word. Ons wag daar tot dit donker word om sommer die klank en lig vertoning ook te kyk.


Philae tempel in die dag


In die nag lyk die geboue asemrowend met die lig wat al die uitgegraveerde sketse en simbole beklemtoon. Die kombinasie van die storie wat vertel word, die dramatiese musiek en die ligte is effens kietsch, maar steeds die uitstappie werd.



Farahat is ‘n klein skoon restaurantjie in ‘n agterstraatjie wat die lekkerste bredies maak.


Visums


Dag 26 - 26 Januarie 2012
Aswan, Egipte

By die Sudanese ambasade, gaan vra ek en Peter om ons visums te verleng. Indien ons Maandag se veerboot mis, verval dit voor die volgende een ‘n week later vertrek. Mr Mohamed verseker ons dat indien ons nie Saterdag kaartjies kry vir die veerboot nie, ons Sondag oggend terug kan kom om ons visums net daar te verleng.

Die res van die middag leer ons meer van al die tempels, grafte en standbeelde in die Nubiese museum en loer by die Koptiese Kerk in.


Koptiese kerk



Die binnekant en dak van die kerk is pragtig versier.

Volgeboek


Dag 25 – 25 Januarie 2012
Aswan, Egipte

Vandag is die 1 jaar herdenking van Egipte se revolusie. Ons is huiwerig om in die stad rond te loop, maar moet die veerboot reel.

Die veerboot van Aswan na Wadi Halfa in Sudan is die enigste manier om met ons voertuie in Sudan te kom. Die voertuie word op ‘n vlot gelaai, dan vertrek die passasiersveerboot ‘n dag later. Die rit neem so 20 - 24 uur vandat mens opklim. Vandat die passasiersboot by Wadi Halfa arriveer, neem dit nog twee of drie dae voor ons die voertuie kan kry en aanbeweeg. Die passasiersveerboot vertrek net een keer ‘n week van Aswan op ‘n Maandag, die vlot met voertuie ook net 1 keer ‘n week, as daar genoeg voertuie geboek is. Die volgende een vertrek dus die 30ste Januarie.

Ons ontmoet vir Mr Saleh by die kantoor waar ons die veerboot moet boek. Reeds op die bankie voor sy kantoor wag ‘n jong Engelsman. Hy en sy span van 5, met twee voertuie is reeds in die ry vir die vlot en veerboot. Hul is oppad met 'n welsynsmissie in skole regdeur Afrika.

Volgens Mr Saleh, is die voertuigvlot reeds volgeboek vir Maandag, so ons sal maar volgende Maandag s’n moet boek. Nie juis wat ons wil hoor nie.

By Adam Home, gaan soek ons nog reisigers om dalk volgende week se vlot saam te boek, maar vind net die lee kampplek. Sameh en Mohamed, die Nubiers wie daar werk, verwelkom ons met ‘n koppie tee. Met geen ander planne vir die dag nie, ry ons saam met Mo (dis sy bynaam) vir ‘n toer deur die Nubiese nedersetting. By sy primitiewe kafee, drink ons nog tee en koeldrank, en neem die mooi uitsig en rustige atmosfeer langs die Nylrivier in. Wanneer ons loop, weier hy dat ons betaal vir die drinkgoed, en vra nie ‘n sent vir sy moeite om ons rond te wys nie.


Mo en Sameh, die Nubiers wat Adam Home bestuur


Die Nubiese nedersetting langs die Nylrivier


Mo se kameel


Die eenvoudige koffiewinkeltjie langs die rivier


Seilbote beweeg rustig al langs die rivier


Sonsondergang