Dag 37 – 39
6 – 8 Februarie 2012
Gonder, Ethiopie
By die grensposte tussen Sudan en Etiopie, Qallabat en Matema, vrek ons van die hitte. Daar is honderde mense wat heen en weer tussen die twee lande loop, maar tog is ons die enigstes wat aanmeld by immigrasie en doane. Ons moet ‘n rukkie wag vir die amptenaar om klaar te maak met sy middagete, maar anders as dit verloop alles glad.
Die pad na Gonder raak mooier hoe verder ons ry. Bome en gras raak meer en meer soos ons op en op met die bergpas ry. Die temperatuur koel ook genadiglik af hoe verder ons wegbeweeg van seespieel.
By Belegez Pension is al die kamers reeds volgeboek, maar ons word toegelaat om saam met ons voertuie in die vierkant te kamp. Daar is geen water of elektrisiteit vandag nie, so ‘n stort sal moet wag tot more.
Ons kamp in die vierkant van Belegez Pension
Gonder is presies soos die gids dit beskryf – dis die plek waar sprokiesverhale vandaan kom. Al langs die klipstraatjies stap ons na die verbeeldingryke kastele van die Atse Fasil Compound.
Een van vele sprokieskastele
Die ou Debre Birhan Selassie Kerk het kleurvolle prentjies aan die mure wat bybelstories vertel. Dis nie presies soos ons Bybel nie alhoewel daar baie ooreenkomste is.
Die kerk van buite.
Van die tekenprentjies aan die mure, en die gesiggies in die dak wat permanent ‘n ogie hou oor al die besoekers. Die is honderde jare oud.
Fasiledas se bad is waarvan ek kleintyd gedroom het. ‘n Groot kasteel, omring met water, toegang net moontlik gemaak deur ‘n klein bruggie na die ingang. Die eeue oue bome met wortels in die kliprante geanker, omring die swembad waar Fasiledas gebad het. Die water is wel nou weg, maar jy kan indink hoe dit lank gelede moes gewees het.
Fasiledas se bad, die water word opgevul tot teenaan die onderkant van die balkon.
Die bome wat die swembad omring.
Alles van Ethiopie is vreemd en anders as die res van Afrika, en seker die wereld. Eerstens, volg hul hul eie kalender. Dit is nou eers 2004 hier, ons paspoorte is nog nie eers geldig nie, en ek is nog nie klaar met skool nie.
Hul horlosies hou tyd met die son. In die oggend om 06:00, wanneer die son opkom, is dit 12uur. Een uur na sonopkoms, is dit 1uur, twee ure na sonopkoms, is dit 2uur, ensovoorts. 18:00 wanneer die son ondergaan, is dit weer 12uur. Een uur na sononder is 1uur, en so gaan die patroon aan.
Die Etiopiese spyskaart is ‘n ondervinding op sy eie. Injera, ‘n groot pannekoek wat van suurdeeg gemaak is, word saam met alle disse bedien. En met suurdeeg bedoel ek, dit proe of hul ‘n bottel asyn by elke pannekoek gooi. Net so is dit regtig sleg. Maar saam met die vleisdisse in verskillende branderige souse (hul is lief om chillies by alles te gooi), is dit ‘n heerlike kombinasie, waarvan mens nie genoeg kan kry as jy eers gewoond raak nie. Hul het ook lekker vegetariese verskeidenhede wat saam met injera bedien word.
Ethiopie se nationale dis
Die Vier Susters Restaurant is ‘n uitstekende eetplek. Die vier dames is baie vriendelik en spontaan en sorg vir ‘n uitstekende Etiopiese ondervinding.
Vars vrugtesap kafees is ook om elke hoek en draai te sien. Hope mango's, pynappels, papaja's en avokadopere word versap en in ‘n groot bierglas bedien saam met ‘n skyfie suurlemoen. Die avokadopeer en mango mengsel is ‘n gunstelling. Alhoewel ek skepties was vir die vreemde kombinasie, was ek aangenaam verras met die interessante drankie.
Die avokadopeer en mango sap
Ek is in ekstase om ‘n slag ‘n Cappucino te drink – iets wat maar skaars was in Egipte en Sudan. Maar my eerste Cappucino het geen koffie in nie, dis net ‘n sjokolade drankie, alhoewel dit ook baie lekker is. Ons leer eers baie later dat jy vir ‘n Macchiato moet vra as jy ‘n Cappucino wil he.
















































