Saturday, 28 January 2012

Mansour, ons nuwe beste vriend


Dag 23 – 23 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Dit begin op die straathoek waar Peter ‘n motor moet vas parkeer terwyl ons vir Moustafa wag, wie om 10uur sy vergete voertuig dokumente moet bring. Die bakkie is reeds gepak, Egiptiese nommerplate haastig met draad vasgemaak en hotel sleutel terug gegee. Ons is gereed om te waai.

Maar Moustafa is nerens te sien nie. Peter het nie sy kontaknommer nie, niemand by die Suez Port Authority ingang weet van wie of waarvan hy praat nie en Sameh antwoord geen oproepe nie. Ons wag reeds twee ure, en niemand kom uit nie.

Die vasparkeerde man klop later aan die ruit en vra dat ons skuif sodat hy kan uit. Die man klim net so vinnig uit sy BMW as wat hy inklim – sy battery is pap. Peter spring dadelik uit om te help. Die skokkabels is te kort, so Peter wurm deur die verkeer en om die blok om neus-aan-neus te parkeer om die vreemdeling te help. Die man is meer as beindruk met Peter se moeite, en stel homself voor as Mansour.

Peter vat ‘n kans en vra of hy dalk ‘n stuk papier, waarop Peter sy naam, registrasie nommer en selfoonnommer neerskribbel, vir die eerste amptenaar in die doane kantoor kan gee, in die hoop dat iemand iets weet. Aangesien net inwoners die doane kantore mag betree, is dit al wat ons van buite kan doen. Mansour se hy onthou Peter se bakkie van gister, en weet presies waar by die hawe hul met dit gewerk het. Ons moet hom in sy kar agtervolg.

Hy maak my in die bakkie bly sit met geslote deure terwyl hy en Peter na doane stap. Peter kom ‘n uur later terug. Die dokumente is skoon veld – niemand kan dit opspoor nie. Steeds geen teken van Sameh of Moustafa nie.

Mansour het blykbaar ‘n paar kontakte. Ons moet ‘n halfuur vir hom wag dan sal hy ons laat weet wat om te doen. Volgens hom is dit nie veilig om in Egipte sonder hierdie dokumente te ry nie. Presies ons vermoedens ook.

‘n Halfuur raak 2 ½ ure, en ons wil net moed opgee toe Mansour weer aan die ruit klop. Hy het die kopiee van Peter se dokumente opgespoor. ‘n Mr Ghet se handtekening daarop bevestig dat hy die oorspronklike dokumente van Peter geneem het, en dis blykbaar ‘n kriminele oortreding om dit te verloor. Mansour stel voor dat ons polisie verklaring afle en kopiee van die dokumente laat teken by die Suid Afrikaanse ambasade.

Intussen bel Peter al die kontakte wat ons reeds in Egipte gemaak het. Hy se nog heeltyd daar is ‘n rede hoekom jy altyd iemand wie jou help se naam en nommer neerskryf. Die hele Port Said is later in rep en roer, opsoek na die dokumente.

Mansour ry met ons na ‘n volgende kantoor, waar ons weereens buite moet wag. Ek en Peter deel solank ‘n lemoen om die ergste honger te stil.

Mansour maak uiteindelik weer sy verskyning. Ons al drie spring die keer in sy BMW (wat twee outjies langs die pad moes stoot om aan die gang te kry) oppad na die hawe polisie. Ons sit vir lank saam met Mansour in ‘n amptenaar se kantoor, terwyl hul in Arabies kommunikeer. Ons meng eerder nie in nie. Toe ons ons oe uitvee, staan Romani en Moustafa langs ons. Mansour het hul opgespoor sonder dat ons ‘n van of nommer van hul kon gee. Aangesien Egipte se inwoners 'n beperkte hoeveelheid name deel, help die eerste name wat ons neerskryf nie altyd nie.

Dit is 7uur die aand wanneer ons by die hawe polisie uitstap. Mr Anis, Sameh se baas, belowe om die polisie verklaring en gesertifiseerde kopiee, wat hul namens ons sal kry na, na Aswan te stuur, waar Urs en Beatrice reeds wag. Blykbaar sal ons veilig deur Egipte se grens kan kom sonder die oorspronklikes. Dit is goed en wel dat ons uit Egipte kan kom, maar ons bekommernis is die volgende tien of meer grense waar ons moet deur.

Nadat Mansour – ‘n totaal onbetrokke derde party – sy hele dag opgeoffer het om ons te help, vat hy ons uit vir ete by Kastan. Hy hou nie op verskoning vra vir die moeilikheid wat veroorsaak is nie, al het hy niks daarmee te doen nie. Hy is teleurgesteld dat ons eerste ervaring van Egipte so ‘n skewe draai moes loop.

Hy is werklik ‘n aangename man. Hy gesels lekker deur sy gebroke engels, vra uit oor ons en vertel van homself. Hy kom van Cairo, en het ‘n invoer en uitvoer maatskappy wat hy en sy pa saam bestuur.  Die dat hy goeie kontake by doane het.  Na ete help hy ons selfs om brandstof in te gooi, voor hy groet.

By Noras Beach Hotel ontvangs, vra ons dieselfde sleutel as die vorige nege nagte.


Mansour bederf ons met ete.

No comments:

Post a Comment