Wednesday, 18 January 2012

Lewelose rondomtalies


Dag 15 – 15 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Ons drink weer die sonstrale in by ons buite ontbyttafel. Sameh word kort daarna gebel om op te volg oor Peter se bakkie. Soos ons verstaan, kom Peter se skip eers more, Sameh sal oormore Peter se paspoort kom haal en dan neem die papierwerk by doane 3 tot 4 werksdae. Dit bevestig ons groot, maar verwagte, vrees: Ons kan nog lank wag, moontlik ‘n week of langer.

Daar is geen rede hoekom Beatrice en Urs saam met ons hoef te wag nie, so ons stuur hul weg dat hul solank verder kan reis. Hul val more oggend vroeg in die pad na die Westelike Woestyn. Sodra Peter se bakkie kom, sal ons weer by hul aansluit.

Ons lees boeke in die son, en die Toyota word uitgepak, uitgesorteer en oorgepak. Dan loop ons op die voetpaadjie, al langs die Medittereense see. Sambrele met stoele staan eensaam op die strand – die weer hopeloos te koud om te benut. Groot vakansie oorde met luukse swembaddens onder palmbome kyk uit oor die see, maar staan leeg en verlate. Die kinderlose rondomtalies draai in stilte, aangeskakel om te keer dat dit vir altyd vasroes. Met ‘n paar toeriste-voete, sal Port Said lewe kry, atmosfeer en karakter he.


Speelparkie wat laggende kindertjies skort


Peter kan nie weerstaan om twee mans, wat sukkel om 'n motorfiets aan die gang te kry, te help nie.

Ons gaan doen inkopies by Metro, en gaan eet vir oulaas as ‘n volledige span by El Borg, ‘n populere seekos restaurant.


El Borg restaurant

No comments:

Post a Comment