Dag 16 – 16 Januarie 2012
Port Said, Egipte
Vroegoggend sien ons vir Urs en Beatice af. Hul is oppad na die Westelike Woestyn, terwyl ek en Peter agter bly om vir die bakkie te wag.
Urs en Beatrice verlaat ons vir eers.
By die paspoort kantoor, voltooi ons aansoeke om ons visa’s te verleng. Die behulpsame amptenare stel ons gerus dat ons in elkgeval 15 ekstra dae het, nadat ons 30-dae visa's verval het, om die land te verlaat, sonder enige probleme. Ons is optimisties dat ons teen daardie tyd al die hele Egipte, met ons eie voertuig gesien het, maar neem voorsorg vir die ergste.
Oppad terug, word ons gefnuik met die Woolworths teken buite hierdie winkel, wat net nog aandenkings (in China gemaak) verkoop.
Ons besluit om met ‘n perdekoets terug te keer stad toe. Die ritme van die perd se hoewe op die teerpad is strelend soos hy deur die verkeer vleg. Wanneer ons afklim, probeer die tandlose drywer dubbeld die geld uit ons kry. Die prys wat hy aan ons verkoop het voor ons opgeklim het was blykbaar net vir een persoon, wat hy gerieflik nie genoem het nie. Ons weier om ingedoen te word, en stap weg na ons betaal wat ons in die eerste plek ooreengekom het.
Die perd en sy waentjie
Weer by die Suez Kanaal, spring ons op die veerboot, om te sien wat by Port Fouad, aan die ander kant van die kanaal, aangaan. By ‘n koffie-hoekie aan die punt van ‘n markie, dra ons stoele uit om soos die inwoners, buite in die son te sit en ‘n koeldrank en Turkse koffie te drink.
Na ons die skinkbordjie terug neem, waai een van die mans met sy arms vir Peter weg en beduie dat hy vir ons sal betaal. Ons is verstom deur sy gasvryheid. Vir 'n plek wat duidelik inkomste nodig het van toeriste, weier hul dat ons betaal. Ons tandlose perdekoets drywer kan gerus ‘n les of twee by hom leer.
Groepe giggelende tieners volg ons al die pad hotel toe. Duidelik is hul meer gewaagd wanneer net twee van ons rondstap in plaas van ons gewone groep van vier. Meeste is baie lasting, maar ‘n groepie vriendelike meisies vra mooi of hul ‘n foto saam met ons kan neem. Ons stop vir ‘n minuut, maar daarna stap ons haastig hotel toe, om ontslae te raak van ons vele aanhangers.
Ons eet die aand by Reana Chinese Restaurant. Die kos vat lank, aangesien ons die enigstes daar is, maar dis heerlik. Die kelner is baie vriendelik en aangenaam, en nooi ons uit om saam met hom 'n karnaval later die week by te woon. Peter skryf sy nommer neer vir ingeval ons ‘n bevlieging kry vir ‘n Arabiese partytjie.






No comments:
Post a Comment