Dag 78 – 18 Maart 2012
Baringo Meer, Kenya
Dis ‘n bloedige warm dag. Al met die
agterpaadjies kies ons koers na Bogoria meer. Ons kry weereens nie veel ander
toeriste langs die pad nie.
Die borrelende warmwaterbron by
Bogoria Meer.
Die warm water wat meng met die
koue van die meer maak die mooiste patrone in die water.
Ons ry aan tot by Baringo Meer ‘n ent
verder. By Robert’s Camp, word ons gewaarsku om nie te naby aan die water tent
op te slaan nie – dis die seekoeie se plek. ‘n Seekoei-nagwag word aangestel om
‘n ogie te hou vir as die seekoeie in die nag amok maak.
Terwyl ons tent opslaan wil-wil 'n reenbui uitbreek, maar net ‘n
paar druppels val en ons kry darem die seil betyds oor die tent. Ons wag nog in
spanning vir die groot reen om te kom – ons moet nog uitvind hoe waterdig die
tent is!
Ons geniet die Thirsty Goat se lekker
aandete voor ons inkruip. In die middel van die nag maak die geskarrel buite
ons wakker. Die seekoeie het rondom ons tent kom wei, en die seekoei-wag
probeer met moeite keer dat hul nie te naby aan die gaste kom nie. Met ‘n paar
harde stampe van die wag se voete, reageer die seekoei met ‘n heen en weer
beweging agter die boom; dan die kant, dan daai kant, dan weer die kant – so
asof hy speletjies speel. Ons sit kierts reggop in die tent en hou die gebeure
in die wag se bewegende flitslig dop – as die seekoei sy humeur verloor, storm
hy nou-nou reg bo-oor ons. Uiteindelik kry die wag die seekoei ‘n veilige
afstand weg van ons kampplek af. Met harte wat in ons ore klop, neem dit ‘n
rukkie om weer rustig en aan die slaap ta raak.
Sonopkoms oor Baringo meer.





