Dag 4 - 4 Januarie 2012
Cairo, Egipte
Ou Cairo se straatjies
Moskee se toringtjie in die agtergrond
Cairo, Egipte
Ek en Peter spring vroegoggend in 'n taxi oppad na die Suid Afrikaanse Ambasade om Sameh se toestemmingsvorm te sertifiseer. Ons ontmoet daar vir James. Tot Peter se verbasing kom hy ook van Zimbabwe af, en voel hy sommer dadelik tuis en James is baie beindruk dat Peter hom in sy huistaal groet.
Ongelukkig praat niemand by die Suid Afrikaanse Ambasade Arabies nie, en die dokument van Sameh moet vertaal word. Ons word weggestuur na 'n geakkrediteerde, gesertifiseerde vertolker. Daar aangekom loop ons in 'n toe kantoor deur vas. Na 'n halfuur se wag daag die sekretaresse op, en tot ons verligting belowe sy om die dokument binne 'n uur vir ons gereed te he, baie korter as die 3 dae wat haar bestuurder oor die telefoon met ons bevestig het.
Terug by die ambasade met die vertaalde dokument, verseker James ons dat sy kollega dit vir ons kan stempel, sodat ons dit more kan afhaal. Ons is verlig dat hierdie uitstappie net 4 ure geneem het, en sluit aan by Urs en Beatrice om die res van die dag die Cairo Citadel & Ou Cairo te verken.
Die Mohamed Ali Moskee is die grootste. Baie indrukwekkend. Die hele gebou is uit marmer gemaak.
Die marmer vloer buite die moskee is yskoud onder ons kaal voete.
Die uitsig vanaf die citadel is asemrowend. Cairo strek sover jy kan sien.
Met die afstap na Ou Cairo, laat ons huiwerig toe dat 'n oorgretige "local" ons maar rondwys. Soos al die voriges, probeer hy ons oortuig dat hy nie geld wil he nie, hy is maar net 'n onderwyser wie sy engels wil verbeter.
Wat 'n belewenis! Hy het ons al deur die nou klipstraatjies van Ou Cairo gelei. Dit is waar die stad ontstaan het. Elke skoenbokshuisie het 'n kleiner skoenbokswinkeltjie voor, wat enige iets van kar parte, tot soet patas, kruie, mielies, tee en sheesha (water rookpyp), chips en koeldrank, meubels, selfone en batterye verkoop. Daar is ook klerewasserye, skoenmakers en motorwerktuigkundiges. Die mense loer nuuskierig na ons, die kindertjies groet en waai.
Die strate is vuiler as vuil, plek plek moet ons keer om in die modder te gly, en oor gate spring. Om elke draai is 'n ashoop waar die katte krieoel om stukkies kos uit te grawe. Bokke en skape loop oral in die strate en op die dakke rond. 'n Walglike, bedompige reuk trek my aandag; 'n stapel kratte vol vuil, stink hoenders, eende en hase is styf langs mekaar gepak wat die SPCA se hare sal laat rys! Dit is 'n hartseer sig. Tog het hierdie plek hope karakter.
Ons gids neem ons verder na nog 'n moskee. Hy laat ons selfs by die minaret (die toringtjie van die moskee) opklim. Ons moes betaal vir die uitstappie deur die moskee, hierdie fondse word blykbaar gebruik om kos, water en klere vir die gemeenskap te voorsien.
Uitsig vanaf die minaret
Die straatjie waar ons gestap het
Steeds die mooi uitsig
Peter en Beatrice sien nie kans vir die benoude spiraal trappies na die top van die toringtjie nie
Ons is nie baie verbaas dat ons gids vir geld vra wanneer hy ons verlaat nie, en ook nie dat hy ontevrede is met die baksheesh (tip) wat ons vir hom gee nie. Maar dit was tog die moeite werd.
Die Egiptiese Bazaar is volgende op ons lysie. Dis 'n baie lewendige atmosfeer, maar tot ons teleurstelling is dit net een groot china town! Die enigste egte Egiptiese produkte wat ons opmerk is die soet patats en mielies wat die locals oor kole op 'n waentjie gaar maak en so verkoop, en voersakke vol rou Egiptiese katoen. Die res van die markie is bonter en kitsher as die laaste China shop wat jy gesien het.
By die hotel drink ons soos gewoonlik eers 'n gin en tonic voor ons by Radwan Restaurant gaan eet, waar die kos hopeloos te veel is vir ongelooflik goedkoop. Definiteif die moeite werd.
'n Verskeidenheid disse om van te kies by Radwan restaurant
No comments:
Post a Comment