Dag 60 – 65
29 Feb – 5 Maart 2012
Lake Langano – Arba Minch – Konso – Turmi, Ethiopie
Na al ons voorbereiding in Addis, takel ons die pad na Suid-Ethiopie, langs Turkana Meer verby en uiteindelik tot in Kenya. Al wat nog op ons pad in Ethiopie te siene is, is die tradisionele stamlede van die Omo Vallei.
Lake Langano is ons eerste oornag stop. Die wit strande soos in die gids beskryf is toe swart sand, en die meer se water bruin en onaantreklik, maar dit is ‘n rustige kampplek, en die lodge langsaan het ‘n lekker restaurant.
By Arba Minch besluit ons teen ‘n uitstappie om seekoeie en krokodille per boot te gaan sien, aangesien hul ‘n fortuin vra daarvoor. Wanneer ons by wildparke verder suid uitkom sal ons hopelik ‘n seekoei ook te siene kry. Ons maak eerder ‘n draai by die Chencha nedersetting voor ons weer in die pad val.
Die tipe hutte is algemeen in Chencha, ‘n klein nedersetting naby Arba Minch.
In Konso, oornag ons by Strawberry Fields – ‘n gerieflike Ecolodge waar ‘n hoop kompos die stortwater warm hou en sonkragpanele sorg vir ligte in die nag. Blykbaar maak hul ook nie diere dood nie, want al wat op die spyskaart is vir aandete is slaaie en vegetariese disse. Ons slaan tent op bo-op die heuwel met ‘n 360 grade uitsig van die heuwels om ons. Hierbo is die sonopkoms vanuit ons tent.
Oppad na Turmi kry ons ook ons eerste papwiel, wat ons in die hitte van die dag, in die son moet omruil. En natuurlik is al die gereedskap onder al die bagasie weggepak. Twee seuntjies, met hul tradisionele mini rompies en koddige haarstyl, stap suutjies nader en hou in stilte ons geselskap terwyl ons aansukkel.
Al langs die pad word ons vermaak met kindertjies wat met hul kriek-lyfies stokkerig ronddans, op hul kop staan en op een been toertjies doen en rondspring. Hul gesigsuitdrukking sodra jy verby ry wys uiterse teleurstelling dat jy nie hope geld by die ruite uitstrooi nie.
By Dimeka, hou ons stil waar die tradisioneel-geklede stamlede markie hou.
By Buska Lodge in Turmi, kamp ons so gerieflik dat ons eers ‘n dag rus voor ons begin rondvra waar en hoe ons die tradisionele bulljumping kan bywoon. Hierdie seremonie is hoogs aanbeveel deur reisigers wat ons vroeer ontmoet het. Een wat ons blykbaar nie moet misloop nie. Met hordes inwoners wat jou na die bulljumping toe wil vat, natuurlik teen 'n prys wat jy eers moet afstry, is dit nie te moeilik om dit gereel te kry nie.
Die dag se gebeurtenisse begin met die whipping- seremonie in die droee rivierbed. Die jong dames is geklee in hul tradisionele klere – leerrompies met lang punte, bont krale om hul nek en arms, en bandjies geryg met klokkies om hul bene wat sorg vir groot geraas. Hul sing en spring ritmies op en af, elke tweede slag stamp hul voete hard op die grond. Wanneer ‘n paar jong mans nader staan bestorm die meisies hul behoorlik. Elke meisie het ‘n lat in die hand, en smeek dan die mans vir ‘n klap. Wanneer die eerste lat deur die lug swiep en haar kaal rug met 'n slag tref, skrik ek eintlik vir die verskriklike geweld, met die harde klap geluid wat suis in my ore. Die meisies stoei en stamp om voor in die ry te kom om weer en weer geslaan te word.
Die jong dames maak gereed om ‘n hou te kry van die mans.
Die bloed loop, en splinters sit in die wonde vas.
Wanneer dit rustiger raak, bespreek die meisies opgewonde hul wonde – die wat meer letsels kry het meer status, en het ‘n groter kans om man te vang.
Die reuk van sweet en bloed hang in die lug, die geklap van die lat en die smekende vroue raak een te veel, en die brutaliteit is vir my meer ontstellend as wat ek die ervaring waardeer.
Na ure se wag beweeg ons eindelik aan om die bulljumping te sien. ‘n Paar meter verder word die beeste bymekaar gemaak en omring deur al die aanskouers. Ek hou my veilige afstand vir as ‘n bul besluit om te storm.
Vyf of ses bulle word aan hul horings en stert vasgehou en langs mekaar word hul staan gemaak. Dan word daar in die bosse vir die oujongkerel beduie dat die bulle gereed is. Eindelik breek die oomblik aan waarvoor ons ure lank al wag. Poedelnakend kom die jong man uit die bos aangehardloop en spring hy van die een bul se rug na die ander tot aan die ander kant, en dan weer terug. Hy herhaal dit nog twee keer...
Die kaalgat oujongkerel in aksie
… En dan is dit verby.
Party mense vind die ervaring baie verrykend, ek het nie. Net hier besluit ek om nie weer kulturele, tradisionele gedoentes by te woon nie. Die whipping- seremonie het my flouerig laat voel (niemand het ons vir hierdie geweld voorberei nie), en my verwagting vir die bulljumping was seker te groot (en ek verkies maar dat almal hul diervelletjies eerder aanhou).
Ons geniet ons laaste aand by Buska Lodge en lag maar oor hoe die dag nie na verwagting afgeloop het nie. Ons pak die volgende oggend vinnig op om die laaste entjie na die grens aan te pak.