Friday, 3 August 2012

Seekoei wegkruipertjie

Dag 78 – 18 Maart 2012
Baringo Meer, Kenya

Dis ‘n bloedige warm dag. Al met die agterpaadjies kies ons koers na Bogoria meer. Ons kry weereens nie veel ander toeriste langs die pad nie.


Die borrelende warmwaterbron by Bogoria Meer.


Die warm water wat meng met die koue van die meer maak die mooiste patrone in die water.

Ons ry aan tot by Baringo Meer ‘n ent verder. By Robert’s Camp, word ons gewaarsku om nie te naby aan die water tent op te slaan nie – dis die seekoeie se plek. ‘n Seekoei-nagwag word aangestel om ‘n ogie te hou vir as die seekoeie in die nag amok maak.

Terwyl ons tent opslaan wil-wil 'n reenbui uitbreek, maar net ‘n paar druppels val en ons kry darem die seil betyds oor die tent. Ons wag nog in spanning vir die groot reen om te kom – ons moet nog uitvind hoe waterdig die tent is!

Ons geniet die Thirsty Goat se lekker aandete voor ons inkruip. In die middel van die nag maak die geskarrel buite ons wakker. Die seekoeie het rondom ons tent kom wei, en die seekoei-wag probeer met moeite keer dat hul nie te naby aan die gaste kom nie. Met ‘n paar harde stampe van die wag se voete, reageer die seekoei met ‘n heen en weer beweging agter die boom; dan die kant, dan daai kant, dan weer die kant – so asof hy speletjies speel. Ons sit kierts reggop in die tent en hou die gebeure in die wag se bewegende flitslig dop – as die seekoei sy humeur verloor, storm hy nou-nou reg bo-oor ons. Uiteindelik kry die wag die seekoei ‘n veilige afstand weg van ons kampplek af. Met harte wat in ons ore klop, neem dit ‘n rukkie om weer rustig en aan die slaap ta raak.


Sonopkoms oor Baringo meer.

Thursday, 2 August 2012

Water in 'n krater


Dag 77 - 17 Maart 2012
Kembu Camp, naby Nakuru Meer, Kenya

Van Nairobi ry ons na Naivasha meer, en neem ons tyd om al om die meer te ry, en diere te kyk soos hul hul verskynsel maak.


By Crayfish Camp rek ons bene voor ons aanry.


Hordes flaminke om die water van Naivasha meer.


By Crater Lake, bied die wag by die hek aan om ons die toegangsfooi verniet te gee as ons R 150 elk betaal vir die buffet middagete. Ons kry ons eie tafel alleen op die drywende restaurant in die middel van Crater Lake. Reg rondom kan ons kameelperde, apies, bokkies en ‘n seekoei sien. Hier is geen ander toeriste nie, en ons kan die mooi uitsig vir onsself hou.

By Nakuru Nasionale Park is toegang ‘n fortuin, so om hier kamp op te slaan vir die nag is nie ‘n opsie nie. ‘n Ent verder kamp ons by Kembu Camp, ‘n ou melkplaas. Ons het eers gedink ons is op ons eie, totdat ‘n overlanding-trok ons rustigheid bederf. Ons moet eers veg vir die spasie wat ons gedeps het; die voor-op-die-wa leier vra ewe of ons ons voertuie kan skuif sodat hul ons kombuis kan gebruik! Die antwoord was nee, so hul moes maar vrede maak met die kampplek langsaan.

Vroegoggend word ‘n vars liter melk by ons kampplek afgelewer – ‘n lekker bederf nadat ons vir weke lank net poeier melk tot ons beskikking gehad het.

Wednesday, 25 July 2012

Mak kameelperde en baba olifantjies


Dag 70 -  76
10 – 16 Maart 2012
Nairobi, Kenya

Nairobi het my aangenaam verras. Die gesofistikeerde stad, waar ons ordentlike inkopiewinkels en lekker eetplekke kry, is verfrissend. Die stad is mooi gemaak, die strate is netjies, en alhoewel verkeer rof kan raak, gehoorsaam meeste mense die padtekens. In die residentiele gebiede, alhoewel omheinings maar hoog is, is die mense ernstig oor tuinmaak en mooi sypaadjies voor hul huise. Hier is ‘n groot westerse gemeenskap, so vir die eerste keer in ‘n lang tyd is ons nie ‘n teiken nie, en word ons in vrede gelaat.

By Jungle Junction kamp ons vir spotgoedkoop. Ons kan die groot huis se gemaklike sitkamer, eetkamer en kombuis gebruik terwyl ons buite op die grasperk kamp. Al die resigers kuier saam soos ‘n groot familie.


Ons raak gemaklik in die hoekie van Jungle Junction se tuin. 

Terwyl ek en Peter die spyskaart van ArtCafe bestudeer – die weie verskeidenheid is intimiderend – spoor Peter sy ou vriend op wat 10 jaar gelede in Nairobi gewerk het, en toevallig op ‘n vlug hierheen oppad is. Mike sorg vir goeie geselskap, en ken al die lekker restaurante.

In die middestad moet ons by Immigrasie kantoor aanmeld om toegang stempels in ons paspoorte te kry (aangesien daar geen grenspos was waar ons deurgery het nie), die kar moet gediens word, en dan moet ek ook aansoek doen vir ‘n visum na Rwanda. Maar anders as dit het ons hope tyd om te ontspan en die gesofistikeerdheid van Nairobi te geniet.

Om mak kameelperde te voer by die Kameelperd Sentrum was definitief ‘n hoogtepunt. Jy kry ‘n handvol hondepilletjies wat jy een vir een uithou sodat die kameelperd dit met sy lang tong oplek. Hy gee ook nie om as jy sy lang nek omhels nie. Dis bietjie van ‘n stryd met al die ander toeriste, maar waar anders kan jy ‘n kameelperd se kop vryf?


Kameelperd vrek oor ‘n hondepilletjie


Baba kameelperdjie kom nog nie lekker by die tweede vloer uit om gevoer te word nie.

By die David Sheldrick Wildlife Trust se sentrum vir wees-olifantjies, kan ons aanskou hoe die baba grootvoete gevoer word. Aangesien hul eendag moet teruggaan veld toe, mag toeriste net 1 uur per dag hul besoek.


Wanneer hul klaar ‘n bottel melk gedrink het, is dit speeltyd. ‘n Lekker modderbad en takke rondsleep is in orde.

Na ‘n week in Nairobi, pak ons weer op en pak die lang pad aan.

Tuesday, 19 June 2012

Omkopery

Dag 66 – 69
6 – 9 Maart 2012
Sibiloi Nasionale Park – Loyangalani – Laisamis – Timau
Kenya

Alhoewel verskillende reisigers se opinies oor sekere dinge, soos byvoorbeeld oor bulljumping, hemelbreed kan verskil, bly inligting oor roetes van mense wat sopas van die rigting af kom waarheen jy oppad is, prysloos. Om die rede is ons oppad na Kenya via die Lake Turkana roete deur Sibiloi Nasionale Park. Die pad is die slegste wat ons nog ervaar het, maar is blykbaar beter as die meer algemene roete deur Moyale.

Aangesien ons reeds (met moeite) uitgang stempels vir die Carnet van die voertuie in Addis gekry het, benodig ons net stempels in ons paspoorte by Omorate, ‘n klein dorpie ver van Kenya se grens af. Hier word ons die eerste keer omgekoop. Alhoewel ons net 30 dae in Ethiopie was, verskil ons mening met die van die amptenaar oor die doel van die visum (wat reeds 8 dae gelede verval het) in my en Peter se paspoorte. ‘n Maand gelede, het die amptenaar op die grens bevestig dat ons 30 dae die land mag besoek, ongeag die feit dat ons visum intussen verval. Die visum is net nodig tot en met die dag wat jy die land wil binnegaan. Maar die amptenare hier het ‘n duidelike geleentheid gesien om geld te maak, en ons laat verstaan die een opsie is om al die pad terug te ry Addis toe om ons visums te verleng, of ons kan hom $200 betaal, dan sal hy ons paspoorte stempel. Hier kan ons nie wen nie, en moet maar opdok om weg te kom.

Die enigste aanduiding dat ons uiteindelik in Kenya is, is die donker grensstrepie op die GPS; verder is daar geen bordjie of grenspos nie. Wanneer ons in Nairobi aankom, sal ons moet aanmeld by Immigrasie.

Ons eerste oornagstop is by die Koobi Fora kampplek in die Sibiloi Nasionale Park. Dit is verlate en stil, met geen ander kampeerders of toeriste in sig nie. Die fasiliteite is darem voldoende en die uitsig oor die Turkana Meer asemrowend.


‘n Aanduiding om nie veel te verwag van Koobi Fora kampplek nie.


Sonsondergang by Turkana Meer

Die volgende dag se ry vorder weer stadig oor die slegte pad. As dit nie vulkaniese rotse is waardeur ons moet kruip nie, is dit sinkplaatpad wat jou tande laat klap. Ons kom na donker by Loyangalani aan, en kry slaapplek op die grasperk van Palm Shade Camp. Ons is dankbaar wanneer die man aanbied om vir ons aandete te maak. Die potte word sommer of die tafel neergesit sodat ons self kan skep; diepgebraaide vis met rys en groente.


Palm Shade Camp

Die volgende oggend pak ons weer op, en met die hulp van inwoners probeer ons vasstel watter roete ons die vinnigste op ‘n hoofpad sal bring. Die moeilike paaie kry ons onder, en ons wil so vinnig as moontlik op ‘n ordentlike pad uitkom.

Peter het sy eerste onderonsie met ‘n snotneusie wat sy bakkie met klippe takel soos ons verby ry. Die seuntjie het nooit gedink dat die bakkie sal stop, of dat Peter sal omdraai en hom jaag nie! Hy en sy maatjies laat spat dat hul voetjies stofwolke om hul opskop. Agter ‘n droee bos, die enigste in die omtrek, skep die arme seuntjie asem, net om te leer dat die bakkie bo-oor droe bossies kan ry! Peter laat hom vir nog ‘n entjie sweet voordat hy hul in vrede laat en wegry. Hopelik sal die seuntjie twee keer dink voor hy weer ‘n klip optel!

Na ‘n lang dag se ry, kom ons by Laisamis aan – ‘n mooi naam vir ‘n dorpie waar jy jouself eerder nie wil bevind nie. Ons het nie mooi gekyk waar ons gaan opeindig of waar daar ordentlike slaapplek is nie. Maar dit is reeds skemer, en die volgende dorpie is te ver, en die pad nog te sleg. In die onooglike gehuggie vind ons darem ‘n omheinde plek waar ons kan kamp opslaan. Ons het ons eie nagwag, maar die se varkies is duidelik nie op hok nie. Hier is nie lopende water nie, en die enigste toilet is so vuil dat ek eerder na donker, agter die sinkplaathut hurk.


Daar was kamers beskikbaar in Laisamis, maar om buite op die grond in ons stowwerige tente te slaap was die skoner opsie.

Na Laisamis hoef ons darem net 20 km sinkplaatpad te ry voor ons uiteindelik op ‘n teerpad kom en heelwat vinniger kan vorder. By Samburu Nasionale Park oorweeg ons om te oornag, maar teen $100 per persoon per nag, ry ons liefs verby. Ons kom op Timau River Lodge af – ‘n snoesige plek in die berge wat lyk of Hansie en Grietjie ook hier kon bly. By die uitsigpunte kan jy die punt van Mount Kenya sien, dis as die wolke nie in die pad is nie.


By Timau River Lodge

Volgende op ons roete is Nairobi.

Monday, 18 June 2012

Nooit weer

Dag 60 – 65
29 Feb – 5 Maart 2012
Lake Langano – Arba Minch – Konso – Turmi, Ethiopie

Na al ons voorbereiding in Addis, takel ons die pad na Suid-Ethiopie, langs Turkana Meer verby en uiteindelik tot in Kenya. Al wat nog op ons pad in Ethiopie te siene is, is die tradisionele stamlede van die Omo Vallei.


Lake Langano is ons eerste oornag stop. Die wit strande soos in die gids beskryf is toe swart sand, en die meer se water bruin en onaantreklik, maar dit is ‘n rustige kampplek, en die lodge langsaan het ‘n lekker restaurant.

By Arba Minch besluit ons teen ‘n uitstappie om seekoeie en krokodille per boot te gaan sien, aangesien hul ‘n fortuin vra daarvoor. Wanneer ons by wildparke verder suid uitkom sal ons hopelik ‘n seekoei ook te siene kry. Ons maak eerder ‘n draai by die Chencha nedersetting voor ons weer in die pad val.


Die tipe hutte is algemeen in Chencha, ‘n klein nedersetting naby Arba Minch.


In Konso, oornag ons by Strawberry Fields – ‘n gerieflike Ecolodge waar ‘n hoop kompos die stortwater warm hou en sonkragpanele sorg vir ligte in die nag. Blykbaar maak hul ook nie diere dood nie, want al wat op die spyskaart is vir aandete is slaaie en vegetariese disse. Ons slaan tent op bo-op die heuwel met ‘n 360 grade uitsig van die heuwels om ons. Hierbo is die sonopkoms vanuit ons tent.

Oppad na Turmi kry ons ook ons eerste papwiel, wat ons in die hitte van die dag, in die son moet omruil. En natuurlik is al die gereedskap onder al die bagasie weggepak. Twee seuntjies, met hul tradisionele mini rompies en koddige haarstyl, stap suutjies nader en hou in stilte ons geselskap terwyl ons aansukkel.

Al langs die pad word ons vermaak met kindertjies wat met hul kriek-lyfies stokkerig ronddans, op hul kop staan en op een been toertjies doen en rondspring. Hul gesigsuitdrukking sodra jy verby ry wys uiterse teleurstelling dat jy nie hope geld by die ruite uitstrooi nie.


By Dimeka, hou ons stil waar die tradisioneel-geklede stamlede markie hou.

By Buska Lodge in Turmi, kamp ons so gerieflik dat ons eers ‘n dag rus voor ons begin rondvra waar en hoe ons die tradisionele bulljumping kan bywoon. Hierdie seremonie is hoogs aanbeveel deur reisigers wat ons vroeer ontmoet het. Een wat ons blykbaar nie moet misloop nie. Met hordes inwoners wat jou na die bulljumping toe wil vat, natuurlik teen 'n prys wat jy eers moet afstry, is dit nie te moeilik om dit gereel te kry nie.

Die dag se gebeurtenisse begin met die whipping- seremonie in die droee rivierbed. Die jong dames is geklee in hul tradisionele klere – leerrompies met lang punte, bont krale om hul nek en arms, en bandjies geryg met klokkies om hul bene wat sorg vir groot geraas. Hul sing en spring ritmies op en af, elke tweede slag stamp hul voete hard op die grond. Wanneer ‘n paar jong mans nader staan bestorm die meisies hul behoorlik.  Elke meisie het ‘n lat in die hand, en smeek dan die mans vir ‘n klap. Wanneer die eerste lat deur die lug swiep en haar kaal rug met 'n slag tref, skrik ek eintlik vir die verskriklike geweld, met die harde klap geluid wat suis in my ore. Die meisies stoei en stamp om voor in die ry te kom om weer en weer geslaan te word.


Die jong dames maak gereed om ‘n hou te kry van die mans.


Die bloed loop, en splinters sit in die wonde vas.


Wanneer dit rustiger raak, bespreek die meisies opgewonde hul wonde – die wat meer letsels kry het meer status, en het ‘n groter kans om man te vang.

Die reuk van sweet en bloed hang in die lug, die geklap van die lat en die smekende vroue raak een te veel, en die brutaliteit is vir my meer ontstellend as wat ek die ervaring waardeer.

Na ure se wag beweeg ons eindelik aan om die bulljumping te sien. ‘n Paar meter verder word die beeste bymekaar gemaak en omring deur al die aanskouers. Ek hou my veilige afstand vir as ‘n bul besluit om te storm.

Vyf of ses bulle word aan hul horings en stert vasgehou en langs mekaar word hul staan gemaak. Dan word daar in die bosse vir die oujongkerel beduie dat die bulle gereed is. Eindelik breek die oomblik aan waarvoor ons ure lank al wag. Poedelnakend kom die jong man uit die bos aangehardloop en spring hy van die een bul se rug na die ander tot aan die ander kant, en dan weer terug. Hy herhaal dit nog twee keer...


Die kaalgat oujongkerel in aksie

… En dan is dit verby.

Party mense vind die ervaring baie verrykend, ek het nie. Net hier besluit ek om nie weer kulturele, tradisionele gedoentes by te woon nie. Die whipping- seremonie het my flouerig laat voel (niemand het ons vir hierdie geweld voorberei nie), en my verwagting vir die bulljumping was seker te groot (en ek verkies maar dat almal hul diervelletjies eerder aanhou).

Ons geniet ons laaste aand by Buska Lodge en lag maar oor hoe die dag nie na verwagting afgeloop het nie. Ons pak die volgende oggend vinnig op om die laaste entjie na die grens aan te pak.

Friday, 15 June 2012

Rondhangers met lang vingers

Dag 56 – 59
25 – 28 Februarie 2012
Addis Ababa, Ethiopie

Groot stede bly ‘n nagmerrie. Ons probeer dit so ver as moontlik vermy. Ek sien eintlik op na die uitstappie na Addis. Maar voertuie moet gediens word en visums moet gereel word vir ons reis vorentoe. By Wim’s Holland House, gewild onder oorland- en rugsakreisigers, kry ons darem als wat ons nodig het. Wim en sy vrou het ‘n lekker restaurant; dit spaar ons die stresvolle soektog na ‘n aanvaarbare eetplek in die stad. Boonop het hy  sy eie motorwerkswinkel met motorwerktuigkundiges wat hy self oor die jare opgelei het – al die reisigers praat van die goeie diens.

‘n Uitstappie dorp toe kan geensins as ontspannend beskryf word nie. Die sypaadjies wemel van mense, en met ons bleek velle en ligte hare, is ons ‘n teiken. Kort-kort voel jy hoe daar aan jou rugsak gepeuter word. Na jy jou ore heeldag spits en jou kop soos ‘n soeklig draai, kom jy uitgeput, maar hopelik met al jou besittings tuis.

Ons beplan om die roete langs Turkana Meer na Kenya te volg, advies wat ons van ander reisigers gekry het. Die meer algemene roete deur Moyale, is blykbaar so sleg dat jy letterlik verby gebreekte voertuie langs die pad ry soos hul een vir een die gees gee. Maar daar is geen grenspos aan Kenya se kant langs Turkana Meer nie, en Ethiopie se grenspos in Omarate (ook ‘n hele paar km van die grens af) het ‘n Immigrasie kantoor, maar nie Douane nie. Dit is ‘n probleem aangesien die Carne van die voertuig ‘n offisiele uitvoer stempel nodig het. Om die probleem uit te sorteer, kos ons 7 ure se wag by doane in Addis, waar ons met baie geduld hul oorreed om die Carne te stempel voor ons Addis verlaat.

Die paar dae in Addis is stresvol en frustrend, ons is net te bly wanneer ons visums gereed is en ons weer in die pad kan val.

'n Ander soort klipkerk

Dag 55 – 24 Februarie 2012
Lalibela, Ethiopie

Met al die kerke, kloosters en moskees wat ons tot dusver al besoek het, het ek nie gedink nog ‘n kerk sal my veel meer kan beindruk nie. Ek kon nie verder van verkeerd wees nie.

Verbeel ‘n massiewe soliede rots in ‘n berg. Koning Lalibela, in die 12de eeu, het 13 kerke, in vier groepe, uit sulke rotse gekap, met gangetjies en geheime ingange tussenin wat ‘n doolhof kan wees as jy nie ‘n gids het om jou reg te help nie. Die kerke is in perfekte proporsies ontwerp, met slote vir dreinering ook ingereken vir wanneer dit reen. So goed beplan dat dit vandag nog staan sodat ons hierdie meesterstuk kan bewonder. Dit het koning Lalibela en sy helpers 23 jaar geneem om 13 kerke klaar uit te kap.


Hier is die dak van die kerk met simboliese kruis-ontwerp sigbaar.


Die voorkant van die kerk


Gangetjies en bruggies neem jou tussen die kerke.


By hierdie donker gangetjie na ‘n geheime ingang, daag ons gids ons uit om nie flitse te gebruik nie. As jy eers binne is, kan jy nie jou hand voor jou oe sien nie. Met jou regterhand teen die muur en linkerhand bo jou kop, loop jy voel-voel deur tot jy eindelik die lig aan die ander kant sien aankom.


Nog ‘n kerk perfek uit rots gekap.

By die karaktervolle Seven Olives Hotel kuier ons vir oulaas saam met Duko en Itai voor ons paadjies die volgende dag skei.