Saturday, 28 January 2012

Vry soos voels


Dag 23 – 23 Januarie 2012
Safaga, Egipte

Ons is vroegoggend reeds in die pad. Die opgewondenheid om eindelik met ons eie voertuig te kan ry, is oorweldigend. 


Die nommerplaat wat met bietjie kreatiewiteit en baie moeite vasgemaak is.

Ons is effens gedruk vir tyd. Ons moet by Urs en Beatrice uitkom in Aswan sodat ons 'n plek op die veerboot en vragskip kan bespreek van Aswan na Wadi Halfa in Sudan. Ons wil ook sover as moontlik vermy om die 25ste Januarie op die pad te wees. Met die 1 jaar herdenking van die revolusie, wil ons nie enige kanse vat nie.

Ons kies die kuspad al langs die rooisee. Die turkoois see is kristal helder, die skoon water ‘n vreemde sig in die besoedelde land waaraan ons gewoond geraak het. Honderde vakansie oorde staan op ‘n ry tussen Suez en Zafarana. Daarna verander dit na stowwerige woestyn aan die een kant, en die rooisee aan die ander.

Namiddag loer ons by Hurghada vir slaapplek. Dit is ‘n toeriste-lokval met luukse hotelle en vakansie oorde wat die plek volstaan. Anders as die res van die Egipte, wemel dit met buitelanders. Dis die perfekte plek vir ‘n familie vakansie, veral vir duikers, maar nie wat ons nou nodig het nie. Ons ry eerder bietjie verder na die volgende dorpie.


By Hurghada 

Jy sal nie sommer Safaga op jou moet-besoek lysie kry nie. Daar is niks te sien in die gevrekte dorpie nie. Die mooi kus is weggesteek agter industriele geboue, en die dorpie het ‘n gebrek aan karakter en atmosfeer. Ons kry nie eers ‘n eetplek in die kort hoofstraatjie nie. Ons is amper oppad terug na Hurghada, toe ons die geroeste bordjie van Nemo’s Hotel gewaar.

Nemo’s is ‘n klein juweel in Safaga. Daar is net twee ander gaste, duikers van Holland, ingeboek. Aandete sit die die vier van ons sommer saam met hotelbestuur aan een tafel en eet. Bordspeletjies en Xbox word na die tyd gespeel om die tyd verby te kry. Ons leer vinnig dat as jy nie duik nie, daar regtig niks anders hier te doen is nie.


Nemo's het 'n lieflike uitsig oor die rooisee, definitief die moeite werd na 'n lang dag se ry.

Mansour, ons nuwe beste vriend


Dag 23 – 23 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Dit begin op die straathoek waar Peter ‘n motor moet vas parkeer terwyl ons vir Moustafa wag, wie om 10uur sy vergete voertuig dokumente moet bring. Die bakkie is reeds gepak, Egiptiese nommerplate haastig met draad vasgemaak en hotel sleutel terug gegee. Ons is gereed om te waai.

Maar Moustafa is nerens te sien nie. Peter het nie sy kontaknommer nie, niemand by die Suez Port Authority ingang weet van wie of waarvan hy praat nie en Sameh antwoord geen oproepe nie. Ons wag reeds twee ure, en niemand kom uit nie.

Die vasparkeerde man klop later aan die ruit en vra dat ons skuif sodat hy kan uit. Die man klim net so vinnig uit sy BMW as wat hy inklim – sy battery is pap. Peter spring dadelik uit om te help. Die skokkabels is te kort, so Peter wurm deur die verkeer en om die blok om neus-aan-neus te parkeer om die vreemdeling te help. Die man is meer as beindruk met Peter se moeite, en stel homself voor as Mansour.

Peter vat ‘n kans en vra of hy dalk ‘n stuk papier, waarop Peter sy naam, registrasie nommer en selfoonnommer neerskribbel, vir die eerste amptenaar in die doane kantoor kan gee, in die hoop dat iemand iets weet. Aangesien net inwoners die doane kantore mag betree, is dit al wat ons van buite kan doen. Mansour se hy onthou Peter se bakkie van gister, en weet presies waar by die hawe hul met dit gewerk het. Ons moet hom in sy kar agtervolg.

Hy maak my in die bakkie bly sit met geslote deure terwyl hy en Peter na doane stap. Peter kom ‘n uur later terug. Die dokumente is skoon veld – niemand kan dit opspoor nie. Steeds geen teken van Sameh of Moustafa nie.

Mansour het blykbaar ‘n paar kontakte. Ons moet ‘n halfuur vir hom wag dan sal hy ons laat weet wat om te doen. Volgens hom is dit nie veilig om in Egipte sonder hierdie dokumente te ry nie. Presies ons vermoedens ook.

‘n Halfuur raak 2 ½ ure, en ons wil net moed opgee toe Mansour weer aan die ruit klop. Hy het die kopiee van Peter se dokumente opgespoor. ‘n Mr Ghet se handtekening daarop bevestig dat hy die oorspronklike dokumente van Peter geneem het, en dis blykbaar ‘n kriminele oortreding om dit te verloor. Mansour stel voor dat ons polisie verklaring afle en kopiee van die dokumente laat teken by die Suid Afrikaanse ambasade.

Intussen bel Peter al die kontakte wat ons reeds in Egipte gemaak het. Hy se nog heeltyd daar is ‘n rede hoekom jy altyd iemand wie jou help se naam en nommer neerskryf. Die hele Port Said is later in rep en roer, opsoek na die dokumente.

Mansour ry met ons na ‘n volgende kantoor, waar ons weereens buite moet wag. Ek en Peter deel solank ‘n lemoen om die ergste honger te stil.

Mansour maak uiteindelik weer sy verskyning. Ons al drie spring die keer in sy BMW (wat twee outjies langs die pad moes stoot om aan die gang te kry) oppad na die hawe polisie. Ons sit vir lank saam met Mansour in ‘n amptenaar se kantoor, terwyl hul in Arabies kommunikeer. Ons meng eerder nie in nie. Toe ons ons oe uitvee, staan Romani en Moustafa langs ons. Mansour het hul opgespoor sonder dat ons ‘n van of nommer van hul kon gee. Aangesien Egipte se inwoners 'n beperkte hoeveelheid name deel, help die eerste name wat ons neerskryf nie altyd nie.

Dit is 7uur die aand wanneer ons by die hawe polisie uitstap. Mr Anis, Sameh se baas, belowe om die polisie verklaring en gesertifiseerde kopiee, wat hul namens ons sal kry na, na Aswan te stuur, waar Urs en Beatrice reeds wag. Blykbaar sal ons veilig deur Egipte se grens kan kom sonder die oorspronklikes. Dit is goed en wel dat ons uit Egipte kan kom, maar ons bekommernis is die volgende tien of meer grense waar ons moet deur.

Nadat Mansour – ‘n totaal onbetrokke derde party – sy hele dag opgeoffer het om ons te help, vat hy ons uit vir ete by Kastan. Hy hou nie op verskoning vra vir die moeilikheid wat veroorsaak is nie, al het hy niks daarmee te doen nie. Hy is teleurgesteld dat ons eerste ervaring van Egipte so ‘n skewe draai moes loop.

Hy is werklik ‘n aangename man. Hy gesels lekker deur sy gebroke engels, vra uit oor ons en vertel van homself. Hy kom van Cairo, en het ‘n invoer en uitvoer maatskappy wat hy en sy pa saam bestuur.  Die dat hy goeie kontake by doane het.  Na ete help hy ons selfs om brandstof in te gooi, voor hy groet.

By Noras Beach Hotel ontvangs, vra ons dieselfde sleutel as die vorige nege nagte.


Mansour bederf ons met ete.

Dokumentloos


Dag 21 – 21 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Vanoggend begin ons solank rustig ons goed uitsorteer, sodat wanneer Peter vanmiddag sy bakkie kry (ons bly optimisties), ons dadelik kan pak en ry.

11:00 – Romani (wie vir Sameh werk) is veronderstel om vir Peter te kom haal om na die Suez Port Authority te vat waar hul buite doane moet sit en wag vir die bakkie.

13:00 – Romani daag eindelik op.

14:30 – Peter sms dat dit nog net 5 minute sal wees, ek beter reg staan. Ek spring soos ‘n pyl uit ‘n boog onder my duvet uit waar ek nog le en lees. ‘n Uur en ‘n half se wag by doane is rekordtyd.

15:00 – Peter laat weet dat ek kan rustig raak, dis vyf Egiptiese minute (wat geen nominale waarde toon nie – dit kan enige iets tussen nou en die volgende drie weke wees).

17:00 – Nog geen teken van die bakkie nie.

18:00 – Steeds niks.

19:00 – Reeds donker, kom Peter uiteindelik terug van die hawe af. Die bakkie het hy wel, maar daar is geen teken van sy rybewys, internasionale rybewys, motorregistrasie papiere of motorlisensie nie. Sonder hierdie papiere kan ons net sowel nie die bakkie he nie.

More oggend 10uur moet ons weer by die Suez Port Authority vir Moustafa (nog een van Sameh se agente) wag vir Peter se dokumente.


Die gebou oorkant die Suez Port Authority wat Peter vir ure lank bestudeer terwyl hy wag.


Romani, wie saam met Peter wag. Op sy baadjie se mou staan "I may be slow, but I'm still in front of you".

Saturday, 21 January 2012

Bumbesi

Dag 20 - 20 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Frustrasie is stadig besig om sy tol te eis. Ek brand om weg te kom, Peter kan nie meer stil sit nie, en niks wat ons doen help met die vasgedrukte gevoel nie.

Ons het nie verwag dat hierdie oomblik so gou sal aanbreek nie, maar dit vat nie lank voor ons die Bumbesi kaartjies uithaal nie. Urs het as 'n grap vir ons die speletjie gegee om die tyd om te kry, net voor hul hier weg is. Bumbesi beteken 'n bobbejaan se agterend, of so iets. Peter was met altwee toetsrondtes die agterstewe van die bobbejaan.


Ek probeer uitwerk hoe Bumbesi werk. 

Ons is weer verstom toe 'n bordjie prawns op ons tafel by El Borg Restaurant beland. Peter het by 'n tafel gaan kyk wat hul eet, waar hy toe moes nee se vir die uitnodiging om aan te sit. Toe bestel die vriendelike mans inelkgeval vir ons 'n porsie van wat hul eet.


Vars seekos by El Borg

Toergids

Dag 19 - 19 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Teen die tyd kan ons al gidse word vir Port Said. Ons loop toe oe na die supermark, bank, bazaar, eetplekke en veerbote. Ons probeer ons self uitdaag deur elke keer 'n nuwe afdraai te vat, maar kort voor lank kom ons weer by 'n bekende plek uit. Port Said raak nou te klein vir my, Peter en die tandlose koetsdrywer wie ons wraggies weer raakloop.


Ons het op hierdie vreemde kerk afgekom met een van ons alternatiewe afdraaie


En die een net oorkant die pad.


Hierdie rustige residentiele straatjie het heelwat mooier geboue

Sameh het laat weet dat die bakkie dalk vandag gereed sal wees, maar na verwagting, is dit te goed om waar te wees. More (Vrydag) is reeds naweek volgens die Arabiese kalender, so ons hoop is op Saterdag om die bakkie te kry.

Thursday, 19 January 2012

In vlamme neergeskiet


Dag 18 – 18 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Ons oggend verloop weer rustig terwyl ons wag dat Sameh Peter se paspoort kom haal. Twaalfuur hoor ons die klop aan die deur. Elke bietjie kontak met Sameh gee ons nuwe hoop dat die bakkie gouer eerder as later ontslaan word.

Kort daarna is ons oppad stad toe, om Port Said se beperkte toeriste-aantreklikhede te besigtig.


Die onderkant van de Lesseps monument. Ferdinand de Lesseps was die Fransman wat die idee gekry het om die Suez kanaal te grawe. Die beeld van Ferdinand bo-op is weg.

Ons vind geen gebou onder die kol op die kaart waar die Nasionale Museum behoort te wees nie. Na verdere navraag vind ons uit dat dit platgeslaan is, daar word ‘n nuwe een opgerig. So daar gaan die doel vir die dag se uitstappie by die venster uit!

Ons gaan sien die Suez Port Authority gebou wat baie indrukwekkend lyk van die kanaal af. Oppad loop ons weer ons tandlose perdekoets drywer raak wat ons herken en wild met sy arms beduie. Ons kan nie uitmaak wat hy se nie, hy skel ons seker weer uit. Ons waai vriendelik terug en stap aan. By die Suez Port Authority mag ons net ‘n foto by die hekke neem, ons mag nie eers kameraloos deurstap nie. Nog ‘n idée daarmee heen!


Die Suez Port Authority gebou wat ons net van ver mag sien

Ons laaste probeerslag vir vermaak vir die dag is ‘n bootrit na die Tannis eiland in Manzala Meer, waar ons na ‘n paar monumente kan gaan kyk.

Die aroma van ‘n geroosterde swarma by El Khediwy val ons in die rede, waar ons stop vir middagete. Wanneer ons meer inligting by die kelner probeer kry oor Tannis eiland, raai hy ons summier af om te gaan. Dis blykbaar onveilig, nie eers die inwoners gaan meer daarheen nie. So daar is ons laaste opsie vir vandag se vermaak in vlamme neergeskiet.


Die lekkerste swarma's, sommer so op die sypaadjie.

Ons geniet wel hierdie kant van Port Said. Ons wandel deur die bazaar, en kyk na al die vars vis, groente, speserye en vrugte wat hier te koop is. 


Jy kry selfs vars seeskilpad by die visstalletjies! As ek kon, sou ek vir Skillie koop en vrylaat in die see.

Vakansie lui


Dag 17 – 17 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Vandag voel soos ‘n ordentlike vakansie behoort te voel. Ons slaap laat, kyk die een fliek na die ander, en lees boek.

Aangesien Sameh belowe het om vandag Peter se paspoort te kom haal, wil ons nie die hotel verlaat nie. Ons leer gou dat hy op Afrika tyd werk. Elfuur bel ons om te hoor wanneer hy kom, blykbaar oor ‘n uur. Twee uur die middag volg ons weer op, net om uit te vind dat hy eers more kom.

Ons onderdruk ons frustrasie en probeer ons bloed onder kookpunt hou. Dit klink of hul reeds besig is met die papierwerk, so besig dat hul nie tyd gehad het om te laat weet dat hul nog nie die paspoort nodig het nie. Dit stel ons effens gerus. Ons hou steeds styf duimvas.

Vaarwel


Dag 16 – 16 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Vroegoggend sien ons vir Urs en Beatice af. Hul is oppad na die Westelike Woestyn, terwyl ek en Peter agter bly om vir die bakkie te wag.


Urs en Beatrice verlaat ons vir eers. 

By die paspoort kantoor, voltooi ons aansoeke om ons visa’s te verleng. Die behulpsame amptenare stel ons gerus dat ons in elkgeval 15 ekstra dae het, nadat ons 30-dae visa's verval het, om die land te verlaat, sonder enige probleme. Ons is optimisties dat ons teen daardie tyd al die hele Egipte, met ons eie voertuig gesien het, maar neem voorsorg vir die ergste.


Oppad terug, word ons gefnuik met die Woolworths teken buite hierdie winkel, wat net nog aandenkings (in China gemaak) verkoop.

Ons besluit om met ‘n perdekoets terug te keer stad toe. Die ritme van die perd se hoewe op die teerpad is strelend soos hy deur die verkeer vleg. Wanneer ons afklim, probeer die tandlose drywer dubbeld die geld uit ons kry. Die prys wat hy aan ons verkoop het voor ons opgeklim het was blykbaar net vir een persoon, wat hy gerieflik nie genoem het nie. Ons weier om ingedoen te word, en stap weg na ons betaal wat ons in die eerste plek ooreengekom het.



Die perd en sy waentjie

Weer by die Suez Kanaal, spring ons op die veerboot, om te sien wat by Port Fouad, aan die ander kant van die kanaal, aangaan. By ‘n koffie-hoekie aan die punt van ‘n markie, dra ons stoele uit om soos die inwoners, buite in die son te sit en ‘n koeldrank en Turkse koffie te drink. 

Na ons die skinkbordjie terug neem, waai een van die mans met sy arms vir Peter weg en beduie dat hy vir ons sal betaal. Ons is verstom deur sy gasvryheid. Vir 'n plek wat duidelik inkomste nodig het van toeriste, weier hul dat ons betaal. Ons tandlose perdekoets drywer kan gerus ‘n les of twee by hom leer.


Seemeeue vlieg al saam met die veerboot


Moskee in Port Fouad

Groepe giggelende tieners volg ons al die pad hotel toe. Duidelik is hul meer gewaagd wanneer net twee van ons rondstap in plaas van ons gewone groep van vier. Meeste is baie lasting, maar ‘n groepie vriendelike meisies vra mooi of hul ‘n foto saam met ons kan neem. Ons stop vir ‘n minuut, maar daarna stap ons haastig hotel toe, om ontslae te raak van ons vele aanhangers.

Ons eet die aand by Reana Chinese Restaurant. Die kos vat lank, aangesien ons die enigstes daar is, maar dis heerlik. Die kelner is baie vriendelik en aangenaam, en nooi ons uit om saam met hom 'n karnaval later die week by te woon. Peter skryf sy nommer neer vir ingeval ons ‘n bevlieging kry vir ‘n Arabiese partytjie.

Wednesday, 18 January 2012

Lewelose rondomtalies


Dag 15 – 15 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Ons drink weer die sonstrale in by ons buite ontbyttafel. Sameh word kort daarna gebel om op te volg oor Peter se bakkie. Soos ons verstaan, kom Peter se skip eers more, Sameh sal oormore Peter se paspoort kom haal en dan neem die papierwerk by doane 3 tot 4 werksdae. Dit bevestig ons groot, maar verwagte, vrees: Ons kan nog lank wag, moontlik ‘n week of langer.

Daar is geen rede hoekom Beatrice en Urs saam met ons hoef te wag nie, so ons stuur hul weg dat hul solank verder kan reis. Hul val more oggend vroeg in die pad na die Westelike Woestyn. Sodra Peter se bakkie kom, sal ons weer by hul aansluit.

Ons lees boeke in die son, en die Toyota word uitgepak, uitgesorteer en oorgepak. Dan loop ons op die voetpaadjie, al langs die Medittereense see. Sambrele met stoele staan eensaam op die strand – die weer hopeloos te koud om te benut. Groot vakansie oorde met luukse swembaddens onder palmbome kyk uit oor die see, maar staan leeg en verlate. Die kinderlose rondomtalies draai in stilte, aangeskakel om te keer dat dit vir altyd vasroes. Met ‘n paar toeriste-voete, sal Port Said lewe kry, atmosfeer en karakter he.


Speelparkie wat laggende kindertjies skort


Peter kan nie weerstaan om twee mans, wat sukkel om 'n motorfiets aan die gang te kry, te help nie.

Ons gaan doen inkopies by Metro, en gaan eet vir oulaas as ‘n volledige span by El Borg, ‘n populere seekos restaurant.


El Borg restaurant

Welkom in Port Said


Dag 14 – 14 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Dis die son se beurt om te skyn. Ontbyt is lieflik langs die palmboom buite ons kamerdeur. Selfgeroerde eier, jogurt en muesli, tee en moer koffie uit blikbekertjies en plastiekbakkies. Die lekkerste ontbyt tot dusver.


Ons lieflike ontbyttafel 

Ons dwaal al die pad Suez kanaal toe, waar ons die bron van die ekstra dosis toeriste, wat ons oppad teekom, vind: Ariana vakansie-skip. By verre die grootste en luukste skip geanker in die kanaal. Ons gaap die pieplein houtbootjie aan wat die grotes deur die kanaal lei. Die publieke veerbote beweeg moeiteloos heen en weer oor die kanaal, tussen Port Said en Port Fouad, om voetgangers en motoriste na hul eindbestemmings te bring.


Ariana boot in die agtergrond 


Pragtige Europeuse geboue, wat al beter dae gesien het, staan al langs die kanaal.


Oorkant die Suez Kanaal is Port Fouad 


Die veerbote wat motoriste en passasiers verniet heen en weer oor die Kanaal vervoer

By Ellarrousa drink ons koffie voor ons terug keer na die hotel toe. Port Said het nie baie toeriste aantreklikhede nie. Die paar wat hier is, kan in 'n dag of twee gesien word. Die wag vir Peter se bakkie mag baie lank raak. Sameh moes vanaand die Peter se paspoort kom haal, maar ons hoor niks van hom nie.

Saturday, 14 January 2012

Gepak en oppad

Dag 13 – 13 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Beperkte sitplek in die Toyota was 'n onderbeklemtoning. Ek en Bea moet dubbeld vou om saam met al die bagasie en kamptoerusting in te pas. Daar is een te veel plekke waar ons koppe stamp, en Peter en Urs, gerieflik voor in die kar, waarsku in harmonie met elke hobbel of gat in die pad, al die pad tot in Port Said.



Ek en Beatrice maak onself gemaklik tussen al die bagasie.

Dit is ‘n fees om brandstof in te gooi. Met minder as ‘n vyfde van die prys per liter waaraan ons gewoond is, betaal ons die eerste ingooi slag met ‘n glimlag.

By Port Said aangekom, boek ons by ‘n minder-as-glansryke hotel in. Die beddegoed en gordyne hoort nie saam nie, gemaklike vaatjie-stoele word verruil vir plastiek stoele, kredietkaartsleutels met indruk-en-draai sleutels, die meubels is oud, en batterye van die afstandbeheer weg. 


Maar gesofistikeerde hotelle is nie hoekom ons deur Afrika toer nie. Die weer wat in veelvoude vererger is al wat ons keer om ons self in tente (wat ons nou uiteindelik het!) tuis te maak. Ons het ‘n lieflike uitsig oor die see, ‘n warm bed en warm water. Meer as dit het ons nie nodig nie.




Nora's Beach Hotel, ons nuwe tuiste.


Verlate kroeg langs die swembad by Nora se Strand Hotel.

Om die draai eet ons ‘n eenvoudige broodjie vir aandete. Ek en Beatrice durf die warm gemmer bestel. Met my beurt vir verkoue kry, sal dit dalk net goed wees. 


Die kelner bring ‘n stomende koppie wat lyk soos melkerige opgedamde straatwater en ruik soos die muf voorportaal van ons nuwe hotel. 




Die vreemde gemmer drankie. Ek lyk meer beindruk as wat ek eintlik is.


Met ‘n bietjie suiker en toegedrukte neus kry ek dit afgesluk. Ek wil mos nou nuwe goed probeer. Ek is aangenaam verras hoe tevrede my krapperige keel na die tyd voel. Nie 'n slegte idee nie.

Sukses


Dag 12 – 12 Januarie 2012
Alexandria, Egipte

Die wind fluit ongenooid deur die skrefies van die toe balkonskuifdeure terwyl ek en Bea geduldig pak. Urs en Peter is reeds by die hawe waar hul in spanning, reen en hael staan en wag vir Urs se voertuig. Teen 1uur, het hul nog niks bereik nie. Al die papierwerk is afgehandel, dit is net die wag wat oorbly. Ons hoor van ‘n man wat al 9 dae lank elke dag by die hawe staan en wag om sy voertuig te kry. Dit help nie juis met die senuwees nie.

Teen 4uur die middag spring ek en Beatrice op en af toe ons die goeie nuus kry. Peter en Urs is oppad terug, met die kar!


Verligting! Uiteindelik Urs se Toyota na die lang wag.

Ongelukkig sal daar nie genoeg tyd wees vir ons om deur die woestyn te ry nie. Peter moet reeds die 14de sy paspoort vir Sameh gee in Port Said, net om die hele proses te herhaal vir Peter se bakkie wat dieselfde dag per skip daar behoort te arriveer.

Ons besluit om almal more oggend in die Toyota te spring, en solank Port Said toe te ry. Aan die een kant is ons so dankbaar dat ons uiteindelik ‘n voertuig het, maar aan die ander kant effe frustreerd dat Egipte se burokrasie ons so beperk. Hopelik sal ons nog genoeg tyd he na ons Peter se bakkie kry, om van die woestyn te sien, en ook by Luxor en Aswan tyd te spandeer.

Wednesday, 11 January 2012

Uitgerekte wag


Dag 11 – 11 Januarie 2012
Alexandria, Egipte

Ons maak geen planne vir die dag nie, sodat wanneer Sameh bel, enige tyd van 11 uur af, ons kan spring om die voertuig by die hawe te gaan haal…

‘n Paar hoofstukke van my boek en ‘n paar sudoko’s later bel Sameh uiteindelik. Dis reeds 4 uur! Die kar sal nie vandag al beskikbaar wees nie. Iemand word gestuur om vir Urs en Peter more oggend 10uur te kom oplaai om die kar te gaan afhaal. Nou hou ons maar weer duimvas.

Ons gaan doen solank inkopies by Carrefour (‘n groot moderne inkopiesentrum) sodat ons genoeg voorraad het vir ‘n paar dae in die woestyn.


Ons is baie opgewonde om 'n Starbucks koffie by Carrefour te kry

Ons draai weer by Hosny restaurant vir aandete. Die bestuurder, baie in sy skik om ons weer te sien, verwelkom ons met oop arms. Hy is die vriendelikheid vanself, en bederf ons met sop vir voorgereg, en na ete ook ‘n koppie tee op die huis.


Meneer Hosny - Ons dink nie dit is sy naam of dat dit sy restaurant is nie, maar ons het die vriendelike man maar so gedoop

Hoopvol

Dag 10 - 10 Januarie 2012
Alexandria, Egipte

Vroeg oggend staan ons op vir ‘n stappie langs die see. Die weer is lekker vir ‘n slag, steeds yskoud, maar darem geen wind of reen nie.


Mooi Alexandria oggend

Ons wag nou net vir Urs se voertuig om deur doane te kom. Sodra ons dit kry, is ons weer oppad.

Met te veel tyd op ons hande, en nie veel meer om te besigtig in Alexandria nie, gebruik ons die tyd om poskaarte te skryf vir ons geliefdes.


Bewys dat 'n poging aangewend is om poskaarte te stuur. Ons sal sien hoe betroubaar Egipte se poskantoor is.


Sonsondergang

Aandete is die hoogtepunt van ons dag. By Hosny restaurant, kies jy van die vars vis wat op die straat uitgestal is. In die restaurant wag jy dat hul die kos vir jou gaarmaak soos jy dit verkies. Dis regtig lekker, en die eienaar en kelners doen omtrent moeite om jou gelukkig te hou. Elke 2 minute kom iemand die grate van jou bord verwyder, en nog rys inskep. Ons is baie beindruk, en sal definitief hierdie lekker restaurant met uitstekende diens vir ander aanbeveel.


Ons viertjies voor die restaurant, en ons tafel vol heerlike seekos

Ons kry ‘n oproep van Sameh dat ons enige tyd van more 11 uur af gereed moet wees. Die laaste papiere wat hy moet teken behoort gereed te wees waarna ons die hawe kan verlaat met een van ons eie voertuie! Dit is musiek vir ons ore.