Friday, 6 January 2012

Kultuurskok

Dag 2 - 2 Januarie 2012
Cairo, Egipte

By Cairo lughawe aangekom, moet ek nog 3 ure wag voor Peter-hul land. Die vreemde mense en vreemde taal is intimiderend, en laat my effe verlore voel. Soos ek by die terminaal uitstap, word ek oorval met taxi drywers wat aanbied om my na die hotel te neem. Hul praat darem goed engels, maar is net te gretig om te help. Die rooi liggies gaan onmiddelik aan, die reisgids van Egipte waarsku spesifiek teen hierdie oorgretige taxidrywers wat jou om die bos lei om jou besigheid te kry, wat op die ou end 'n duur prys kos as jy nie weet hoe om met hul te werk en onderhandel nie. Met moeite raak ek ontslae van hul en plak by die enigste koffiewinkeltjie in die terminaal. Hier wag ek tot Peter hul my op die plek kom haal.


Aero Cafe op Cairo Internationale Lughawe

Dis die eerste keer wat ek vir Urs & Beatrice ontmoet, en maak geselsies al die pad hotel toe. Ek weet sommer ons gaan lekker saam toer.

Daar is 'n hoorbare sug van verligting in die taxi wanneer ons in een stuk by Safir Hotel aankom. Die verkeer in Cairo is 'n belewenis! In die eerste plek ry hul aan die verkeerde kant van die pad. Niemand poog om in die bane te hou nie en die motors skuur (soms letterlik) verby mekaar. Tussendeur vleg donkiekarre, perde en mense ook deur die verkeer, ongeag of dit 'n hoofpad of afgelee straatjie is. 'n Toeter koor begelei die ongeduldige drywers tot by hul eindbestemmings.

Die hotel is gerieflik. Behalwe vir die arabiese TV en arabiese skrywe op pamflette, voel dit nie rerig soos Egipte nie.



Ons kan nie langer wag om Cairo te verken nie, so ons durf die straatjies aan, al is dit reeds donker. Die sypaadjies is vuil en vervalle, ons klim heelpad oor gemors, vermy gate en loop om ou, vuil water en verwilderde, maer katte. Die geurige aroma van kruie en speserye stalletjies vul die lug, waar die smorende rookmis nie oorheers nie.


Vrugte stalletjies is orals op straat te sien.


Die kruie en speserye stalletjies

Om oor die pad te stap is 'n vreesaanjaende ekspedisie. Die voetoorgang is net waar jy wil he dit moet wees, en is 'n uitputtende uitdaging om aan die ander kant van die pad te kom.

Terug by die hotel kies ons die Lebanese restaurant vir aandete. Die kos is werklik lekker, en ek is aangenaam verras met die nuwe smake.



Die kelner bederf ons met 'n paar happies nagereg saam met Turkse koffie. 'n Goeie afsluiting na my eerste dag in Cairo!

No comments:

Post a Comment