Friday, 6 January 2012

Toeris toeris

Dag 3 - 3 Januarie 2012
Cairo, Egipte

Na 'n heerlike buffet vir ontbyt (alles behalwe spek is beskikbaar), maak Peter & Urs dokumente bymekaar om vir Sameh te oorhandig. Hy is 'n kontak van die maatskappy waar Beatrice werk wat namens ons die motors deur doane sal kry. Ons het hom nog nie in persoon ontmoet nie en is huiwerig om dit te oorhandig, maar het nie rerig 'n keuse nie. Ons kan dit nie sonder hom doen nie. Almal hou duim vas dat ons weer die dokumente gaan sien.

Met ons eerste uitstappie, gaan ons na Egipte se Nationale Museum toe. Die eerste paar Pharoah's, mummies, hierogliewe & juwele is boeiend, maar daarna lyk die volgende maar net soos die vorige. My gebrek aan kennis van die geskiedenis van Egipte dra nie juis by nie, ek glo dit sal baie meer interessant wees as mens die geskiedenis ken en verstaan.

Ongelukkig mag mens geen foto's hier neem nie.

Ons dwaal weer in die geplaveide straatjies rond. As die enigste toeriste in die straat, word ons weer om elke hoek en draai oorval. Elkeen is vriendeliker as die vorige een, en wil net help. Maar wys mens enige reaksie, raak jy nie ontslae van hulle nie. Ons is dalk bietjie paranoies, maar wil nie sommer enigiemand vertrou nie.

Teen die tyd raak ons al meer gewoond aan die mal verkeer. As jy oor die pad wil stap, steek net jou hand uit, hou jou oe oop, steur jou nie daaraan as iemand toet nie, sien dit as erkenning dat hul bewus is dat jy in die pad staan, en moenie hardloop nie, dit maak almal deurmekaar.

Ons geniet 'n soortgelyke ete by Felfela restaurant as gister. Ons bestel weer 'n paar disse en deel ondermekaar om alles te proe.

Terug by die hotel kry ons 'n boodskap van Sameh dat Peter se bakkie ongelukkig eers die 13de Januarie by Port Said sal aankom. En die dokument wat hom toestemming gee om namens Peter die proses te hanteer, word nie aanvaar nie, dit moet deur die Suid Afrikaanse Ambasade gesertifiseer word. Ons spartel om die adres van die ambasade te kry en iemand om dit te vertaal sodat ons dit more oggend vir die drywer kan gee. Ons verwag om more heeldag met admin besig te wees, en pak leesboeke in vir die wag.

2 comments:

  1. Hi sussa!!!
    BAIE dankie vir jou moeite met jou blog - kan nie wag om oor als te lees nie, gaan lekker wees om op hoogte te bly. Maar in die selfde asem moet ek sĂȘ dat my ogies vol trane is - kan nie glo jy is so ver weg nie, en mis jou sommer al klaar! Wat gaan ek maak in die Kaap sonder 'n sussie??
    Maar geniet elke oomblik!!!
    Lief jou tonne!!
    Leanna

    ReplyDelete
  2. Hey Meysi
    Die blog is great! Eke voel skoon deel van die toer hier vanaf my eie sitkamer :) kanie wag vir die volgende stuk nie! Mis jou nogals so effens ;) baie sterkte met die admin more!

    Luv u*

    ReplyDelete