Saturday, 14 January 2012

Gepak en oppad

Dag 13 – 13 Januarie 2012
Port Said, Egipte

Beperkte sitplek in die Toyota was 'n onderbeklemtoning. Ek en Bea moet dubbeld vou om saam met al die bagasie en kamptoerusting in te pas. Daar is een te veel plekke waar ons koppe stamp, en Peter en Urs, gerieflik voor in die kar, waarsku in harmonie met elke hobbel of gat in die pad, al die pad tot in Port Said.



Ek en Beatrice maak onself gemaklik tussen al die bagasie.

Dit is ‘n fees om brandstof in te gooi. Met minder as ‘n vyfde van die prys per liter waaraan ons gewoond is, betaal ons die eerste ingooi slag met ‘n glimlag.

By Port Said aangekom, boek ons by ‘n minder-as-glansryke hotel in. Die beddegoed en gordyne hoort nie saam nie, gemaklike vaatjie-stoele word verruil vir plastiek stoele, kredietkaartsleutels met indruk-en-draai sleutels, die meubels is oud, en batterye van die afstandbeheer weg. 


Maar gesofistikeerde hotelle is nie hoekom ons deur Afrika toer nie. Die weer wat in veelvoude vererger is al wat ons keer om ons self in tente (wat ons nou uiteindelik het!) tuis te maak. Ons het ‘n lieflike uitsig oor die see, ‘n warm bed en warm water. Meer as dit het ons nie nodig nie.




Nora's Beach Hotel, ons nuwe tuiste.


Verlate kroeg langs die swembad by Nora se Strand Hotel.

Om die draai eet ons ‘n eenvoudige broodjie vir aandete. Ek en Beatrice durf die warm gemmer bestel. Met my beurt vir verkoue kry, sal dit dalk net goed wees. 


Die kelner bring ‘n stomende koppie wat lyk soos melkerige opgedamde straatwater en ruik soos die muf voorportaal van ons nuwe hotel. 




Die vreemde gemmer drankie. Ek lyk meer beindruk as wat ek eintlik is.


Met ‘n bietjie suiker en toegedrukte neus kry ek dit afgesluk. Ek wil mos nou nuwe goed probeer. Ek is aangenaam verras hoe tevrede my krapperige keel na die tyd voel. Nie 'n slegte idee nie.

1 comment:

  1. Hi Vriendin...Ek lees lekker jou blog! Jy artikuleer julle avonture baie goed. Dit voel skoons asof ek saam met jou reis! he he he! Veilig wees!

    ReplyDelete