Saturday, 24 March 2012

'n Ander Planeet

Dag 50 - 54
19 - 23 Februarie 2012
Danakil Woestyn, Ethiopie

Ongeveer vier weke gelede is ‘n groep van amper 30 toeriste in die Danakil woestyn aangeval, blykbaar deur terroriste van Eritrea. Twee word steeds gyselaar gehou saam met 2 soldate van Ethiopie, 2 is ernstig beseer en 5 het hul lewe verloor. So die keuse om die Danakil woestyn te besoek, was nie ‘n maklike of eenvoudige een nie.

Tydens konsultasie met ‘n reisagent, word ons verseker dis heel moontlik die veiligste tyd om die woestyn nou te besoek, aangesien sekuritiet onmiddelik verhoog word na so ‘n insident. Twee polisiemanne moet saam met ons reis, soldate word by sekere punte opgetel vir ons beskerming, en nog soldate hou daagliks wag by die plekke wat ons gaan besoek.

Medereisigers wat dit al gesien het, kan nie uitgepraat raak oor Danakil nie, en ons nuuskierigheid kan dit nie meer hou nie. Om die uitstappie te waag, terwyl ander reisigers dit nie eers oorweeg nie, maak dit net ‘n groter avontuur, en vuur net ons begeerte aan om die reis aan te pak. Behalwe vir my en Peter, is Itai en Duko, rugsakreisigers van Israel, die enigstes wat die 5-dag reis deur die woestyn waag.

Dallol

Van die eerste dag, is ons oorweldig met die surealistiese omgewing om ons. Die vreemdste rotsformasies in die middel van die woestyn laat jou wonder of jy nie dalk op Mars beland het nie.

Dallol is ongeveer 130 meter onder seespieel, en is die laagste punt in Afrika. Dit het ook die warmste gemiddelde temperatuur vir bewoonde land in die wereld.


Paddastoel rotsformasies


Borrelende swaelmere vul die lug met toksiese gasse wat jou longe en neusvliese brand met elke asemteug.



Kleurvolle minerale, helderder en bonter as ‘n kleuter se inkleurboek omring jou.


Formasies wat oor miljoene jare vorm, verbrokkel onder jou voete soos jy versigtig verder loop.

Soutmyn

Die soutpanne strek sover as wat jy kan sien. Ons hou dop hoe die inwoners die sout myn, presies soos dit vir honderde jare al gedoen word; met ‘n eenvoudige bytel word die sout in netjiese blokke gekap, op hope gepak en dan op ‘n kameel gelaai.

Die myner stap dan met sy kamele in ‘n ry na die naaste dorp, Mekelle, om dit te verkoop. Volgens ons gids neem dit sewe dae vir die myner en sy kamele om van die soutpan dorp toe te stap. ‘n Blok sout word maar vir 6 Birr verkoop (R3). En dan stap hy weer 7 dae terug soutpan toe – en ons kla so maklik oor ons werksomstandighede!





Die soutmyn proses


Ek hou vir kameel geselskap terwyl hy geduldig wag vir sy myner om blokke sout klaar te kap.

Erta Ale Vulkaan

Die derde dag durf ons die moeilike pad na Erta Ale vulkaan aan. Sonder enige paaie, altans geen wat ons kan uitmaak nie, hou ons getrou in ons gids se stofwolk om nie te verdwaal nie. Wanneer al die sand verby is, rus ons in ‘n klein nedersetting waar nog soldate opgetel moet word om saam met ons verder te reis. Op kombersies in ‘n tipiese hut, nie veel koeler as die skroeiende son buite nie, bring Alganesh, die toerkok, vir ons middagete wat sy vinnig aanmekaarslaan. Die laaste stukkie pad, deur vulkaaniese rotse, is die moeilikste wat ons nog gehad het. Teen 5 km per uur kruip ons versigtig oor die klippe.

Uiteindelik by ons volgende basiskamp, eet ons vroee aandete en wag tot die son sak voor ons 3 ure na die top van die vulkaan stap.  Twee kamele word opgesaal om vir ons matrassies op te dra sodat ons langs die lava meer onder die sterre kan oornag.


Ek maak maaitjies vir ingeval ek oppad berg-op moeg raak.




Na drie ure se stap in die donker, kom ons uiteindelik by die lavameer uit. Ongelooflik – die hitte teen jou gesig, die aarde wat jy onder jou voete voel rondskuif. Jou hart klop in jou keel wanneer die realitiet jou tref – die vulkaan kan tegnies enige oomblik ontplof…

Die lavameer vroeg die volgende oggend, voor ons weer vir 3 ure terug stap basiskamp toe.


Die lang paadjie terug basiskamp toe.

Afrera Meer
Die laaste dag ry ons tot by Afrera meer, ‘n soutmeer so sout dat jy heerlik in die water dryf. Na 4 dae in die warm woestyn, sonder lopende water is dit lekker bederf. Om die sout van jou vel af te was, is daar ‘n vuurwarm warmwaterbron waar ons ‘n slag ordentlik kan bad. Ons slaan dan tent op langs die strandjie en kuier rustig die laaste aand saam.



Die warmwaterbron.

No comments:

Post a Comment