Dag 46 – 49
15 – 18 Februarie 2012
Mekelle, Ethiopie
In die Tigray omgewing van Ethiopie, is verskeie kerke hoog in die berge uit rotswande gekap. Baie is moeilik bereikbaar en goed weggesteek van verbygangers. Die Christene van die 12de eeu het dit juis so verkies sodat nie-Christene dit nie maklik kon beroof of beskadig nie. Die kerke word vandag nog gebruik.
Van ver af is daar geen teken van die klein uitgekapte rotskerkie in hierdie berg nie.
Met die hulp van ‘n gids, stap ons in die hitte van die dag, ‘n uur lank berg-op. Rooigesig en uitasem kom ons by die kaartjie kantoor uit – twee kaalvoet Ethiopiers onder ‘n skaduboom met ‘n kwitansie boekie.
Urs voor die kaartjie kantoor
Ons rus voordat ons die laaste entjie moet klim – op teen ‘n steil rotshang! Die gidse demonstreer met sorg waar al die vastrapplekke is. Dan klim een vooruit en ‘n ander agterna vir ingeval jy na tien sekondes reeds vergeet wanneer watter hand en/of voet waar moet wees om ‘n nek breek val te vermy. Ek kan steeds nie glo dat die inwoners elke sondag hierdie uitstappie kerk toe aandurf nie. Hul doen dit natuurlik in 'n oogwink.
Bo by die kerk aangekom, kyk jy vas teen die vensters van die kerk. Die ingang van die kerk is om die draai, ‘n dun stukkie hout die bruggie wat jy moet oorsteek om daar uit te kom.
Vensters van die kerk
Amper daar
Uitsig vanaf die berg
Die kerk binne lyk soos meeste in Ethiopie; eeue oue tekeninge van bybelstories teen die mure.
Die werk wat hierdie kerkie moes verg om hoog teen ‘n rotswand uitgekap en binne geverf te word is ‘n teken van hoe toegewyd die christene van Ethiopie daai tyd was en steeds is. Dit is ongelooflik om te kan sien waar hul elke week getrou hul kerkdienste bywoon. Die kerk is soms so vol dat van die lede buite moet sit. Daar is meer as 150 uitgekapte rotskerke in die Tigray omgewing.
Om by die rotshang af te klim is nog moeiliker as op. Maar die gidse span hulself weer in om jou af te help. Van bo, kan ek nie meer die vastrapplekke sien nie. Die gids het later altwee my voete beet, en sit versigtig elk in die inhammetjies waar hul hoort tot ek onder kom.
Die pad ondertoe. Een gids dra my rugsakkie, die ander hou my voete vas, en nog een gryp my hand wanneer dit nodig is.
Alhoewel ons net een dag spandeer het om na van die kerke te kyk, moet ek en Peter vir 4 nagte in Mekelle wag om die reis deur die Danakil woestyn te begin. Die enigste verdere opwinding in die dorp was toe ons hotel een aand amper afbrand. Gelukkig is Urs en Peter vinnig op die toneel om te help met die ekstra brandblussers wat Urs verplig was om in Egipte in sy Land Cruiser rond te ry. Dit het definiteif meer gehelp as die emmers water wat inwoners van meters ver moes aandra om die vuur te blus. Gelukkig was dit net die raadsaal, en kon ons rustig aandete verder geniet.







Sjoe!! Baie interessant. Ek weet net nie of ek oor daai plankie sou kom nie!!
ReplyDelete