Thursday, 22 March 2012

Lui lekker langs die meer


Dag 40 – 41
9 – 10 Februarie 2012
Gorgora, Ethiopie

Dit vat net bietjie langer as ‘n uur om van Gonder na Gorgora, ‘n afgelee nedersetting, te ry.

By Tim & Kim kampplek, ‘n gunstelling onder oorlandreisigers, slaan ons tent op onder die groot skadubome langs Tanameer. Honderde kleurvolle voeltjies tjirp vrolik, en daag ons uit om hul te identifiseer met verkykers en voelboeke.


Tim & Kim, oorspronklik van Holland, en reeds 4 jaar woonagtig in Ethiopie, kruip vinnig in mens se hart. Hul laat ons onmiddelik welkom voel, en die gerieflike kampplek bied meer as wat ons nodig het. Ordentlike, silwerskoon badkamers (lanklaas sulkes gehad), rustige kampplek weg van knaende inwoners & nuuskierige kindertjies, die lekkerste etes, en goeie geselskap. Bob, ‘n vrywilliger, ook van Holland, wat vir Tim uithelp vir ‘n paar maande, voel ook gou soos ‘n vriend. Hy probeer sy bes om die hyenas wat blykbaar in die omtrek bly, nader te bring met ‘n stuk vleis sodat ons hul ook kan sien, maar sonder sukses.


Kamp onder skadubome

In Gorgora, ‘n halfuur se stap van Tim & Kim, besoek ons die klooster in die nedersetting. Hierdie een is blykbaar een van die min wat nog nie beskadigende restourasie ondergaan het nie. Die oorspronklike tekeninge van eeue gelede pryk teen die mure. Vroue word meestal nie toegelaat in die kerke nie, maar gelukkig mag ons die een besoek.


Die tekeninge teen die mure

‘n Vinnige swem in die Tanameer om af te koel in die hitte van die dag - blykbaar is hierdie rotsomringde swemhoekie vry van Bilharzia. Onwillig om dit verkeerd te bewys spring ek in elkgeval vinnig weer uit. Ek is ook nie gretig om katvis se peuselhappie te word nie.


Die swembad

Aandete kuier almal om dieselfde tafel en gesels tot laat nag. Peter en Tim en ‘n bottel whiskey het soos ou vriende tot net voor sonop gekuier. Peter leer die volgende oggend dat die Doxicyclin (malaria pille) en whiskey kombinasie te alle tye vermy moet word, nadat hy sy ontbyt, en die pilletjie verloor.

Die res van die tyd ontspan ons soos akkedisse op die klippe langs die swemhoekie, terwyl Peter vis probeer vang.

No comments:

Post a Comment