Dag 44 – 45
13 – 14 Februarie 2012
Aksum, Ethiopie
Dis ‘n moeilike bergpas tussen Debark en Aksum. Die 250 km neem ons van die oggend voor sonop tot net voor sonsondergang se ry, met min breuke tussenin.
Wanneer die nood druk stop ons langs die naaste bossies, maar dis ook nie altyd so eenvoudig nie. Nes jy die perfekte bossie uitgekies het wat die meeste skuiling bied, maak ‘n handvol Ethiopiers uit die bloute hul verskynsel. Dan druk ek maar die stukkie toiletpapier weer in my sak en klim in die kar.
Hul bedel vir Highland (waterbottels), T-hemde, penne, of vra net bloot vir Birr (geld), meeste sonder om eers te groet. Hul aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie, en los jou nie uit totdat jy wegry nie. As jou venster te groot oopgedraai is, hang hul sommer bo-oor jou en vat aan jou besittings. Party is oenskynlik uiters onsteld dat jy nie wil gee nie, asof hy die enigste persoon in Ethiopie is wat al vir iets gevra het. In die verby ry word mens soms selfs met klippe gegooi. As jy ‘n klip in ‘n seuntjie se hand vroegtydig gewaar, help dit om te waai of om vinger te wys, sodat hy die klip laat val. Die idée wat die inwoners het dat toeriste net moet gee, is vinnig besig om ons indruk van die mense van Ethiopie te skaad.
Aksum het my nie baie beindruk nie. Die dorpie het ‘n gebrek aan sjarme. Jy word heeltyd gepes deur bedelaars en/of straatkinders wat jou skoene blink wil vryf of ‘n stukkie klip, kougom of grondboontjies aan jou wil verkoop. Die toeriste-aantreklikhede is ook nie baie indrukwekkend nie.
Koningin Sheba se bad, die eerste van die toeriste-aantreklikhede, is ‘n dam modderwater waar ‘n paar bokkies rondhardloop. Ek sou dit nie eers opgelet het as iemand my nie gestop het nie.
As dit is waar die koningin moes bad, bly ek liefs ‘n doodgewone mens met ‘n doodgewone bad.
Die obelisks voor die museum is fasinerend omdat die massiewe pilare per hand, as een stuk, met presiese afmetings uit klip gekap is. Maar hul is nie meer stabiel nie en moet reggop gehou word met groot kabels en strukture wat meer ‘n oogseer is as wat dit die prentjie red.
Hierdie massiewe obelisk het reeds omgeval.
Die museum was darem die moeite werd om te besoek
Laastens wou ons die kattedraal sien, maar met 'n fortuin vir toegang besluit ons teen dit en ons dag word net daar kortgeknip. Een van ons was skerp genoeg om te weet wat die datum is, en dat dit Valenteinsdag in die Westerse wereld is (geen teken hiervan in Ethiopie nie). Ons kry toevallig ‘n Valentine Café waar ons ‘n glasie klink op die dag.



No comments:
Post a Comment