Dag 42 – 43
11 – 12 Februarie 2012
Simiese berge, Ethiopie
Onder aan die Simiese berge, by Debark, moet ons toegang kaartjies betaal en ‘n wag optel. Soos ons met die bergpas opry, wonder ons wanneer ons by die woud uitkom. Daar is plekplek skraal boompies wat bymekaar staan, maar verder is net donga’s en kaal berge sigbaar. Dit is hartseer dat 95% van Ethiopie se woud reeds uitgewis is deur die land se massiewe populasie.
By die eerste kampplek het ons ‘n mooi uitsig oor ‘n vallei, weggesteek van die res van die kampeerders. Ons het uiteindelik by 'n paar bome uitgekom, nie juis wat jy woud kan noem nie, maar darem 'n bietjie groenigheid tussen die gras. Met min daglig oor, maak ons aandete en kry ons tente gereed.
Uitsig oor die vallei
Ek kan steeds nie agterkom wat die doel is van die wagte wat ons orals moet saamsleep nie. Beskerm hul ons teen die mens-sku Walia-Ibex’s of die vriendelike Simiese bobbejane, of is daar rowers in die bedrywige nasionale park waarvan ons nie weet nie? Hul teenwoordigheid word gou ‘n steurnis wanneer hul gemaklik raak in ons kampstoele om die vuur wat ons self aan die brand gesteek het. Hul gewere word sommerso rondgeswaai met geweerlope wat gereeld hier langs jou oor beland.
Die nag raak ysig koud. Lang pajamas en twee slaapsakke is nie genoeg om warm te bly nie. Die dun lug, 3500 meter bo seespieel laat jou hyg vir jou asem wanneer jy in jou slaapsak probeer omdraai.
Vroegoggend ry ons na die tweede kampplek waar Livia en Coen (reisigers van Holland wat ons in Aswan ontmoet het, en weer in die berge raakgeloop het) vir ons pannekoek vir ontbyt maak. ‘n Simiese bobbejaan kom al hoe nader en flikflooi met Peter. Hy gaap, wys sy groot, lelike tande, en staar dan uit oor die vallei asof hy ook gekom het vir die uitsig.
Adoons geniet die uitsig
Ons trek stapskoene aan en volg die wagte deur die mooiste voetpaadjies na asemrowende uitsigpunte. Ons loop nog bobbejane raak, en kom of Walia Ibex's af wat teen die rotswand afhardloop. Met min voetspasie vir hul hoewe is dit ‘n fyn kuns van balans en goeie tydsberekening om nie meters ver van die berg af te foeter nie. Dis ongelooflik hoe hul aangepas is om die steil berge op en af te hardloop.
Walia Ibex
Bobbejaan klim die boom…
Mooi uitsig. Meeste van die woud reeds uitgewis.
Ons is maar kortasem, maar weier om te stop voor ons op die hoogste punt in sig uitkom. Dit vat heelwat langer as wat ons gedink het, maar die wag kry ons darem met kortpaadjies terug by die kamp voor die son onder gaan.
Lang voetpaadjie na die toppunt
Die nag is lank, nog kouer as die vorige aand, en die lug nog dunner, wat asemhaal moeite maak. Ek rol heelnag rond tot dit uiteindelik lig word en ons in die pad val nog voor die son opkom. Die stap in die berge, die diere en die ongelooflike uitsigte is definitief die moeite werd, al moes ek suurstof, slaap en my liggaamshitte opoffer.






No comments:
Post a Comment