Friday, 3 August 2012

Seekoei wegkruipertjie

Dag 78 – 18 Maart 2012
Baringo Meer, Kenya

Dis ‘n bloedige warm dag. Al met die agterpaadjies kies ons koers na Bogoria meer. Ons kry weereens nie veel ander toeriste langs die pad nie.


Die borrelende warmwaterbron by Bogoria Meer.


Die warm water wat meng met die koue van die meer maak die mooiste patrone in die water.

Ons ry aan tot by Baringo Meer ‘n ent verder. By Robert’s Camp, word ons gewaarsku om nie te naby aan die water tent op te slaan nie – dis die seekoeie se plek. ‘n Seekoei-nagwag word aangestel om ‘n ogie te hou vir as die seekoeie in die nag amok maak.

Terwyl ons tent opslaan wil-wil 'n reenbui uitbreek, maar net ‘n paar druppels val en ons kry darem die seil betyds oor die tent. Ons wag nog in spanning vir die groot reen om te kom – ons moet nog uitvind hoe waterdig die tent is!

Ons geniet die Thirsty Goat se lekker aandete voor ons inkruip. In die middel van die nag maak die geskarrel buite ons wakker. Die seekoeie het rondom ons tent kom wei, en die seekoei-wag probeer met moeite keer dat hul nie te naby aan die gaste kom nie. Met ‘n paar harde stampe van die wag se voete, reageer die seekoei met ‘n heen en weer beweging agter die boom; dan die kant, dan daai kant, dan weer die kant – so asof hy speletjies speel. Ons sit kierts reggop in die tent en hou die gebeure in die wag se bewegende flitslig dop – as die seekoei sy humeur verloor, storm hy nou-nou reg bo-oor ons. Uiteindelik kry die wag die seekoei ‘n veilige afstand weg van ons kampplek af. Met harte wat in ons ore klop, neem dit ‘n rukkie om weer rustig en aan die slaap ta raak.


Sonopkoms oor Baringo meer.

No comments:

Post a Comment