Friday, 15 June 2012

Rondhangers met lang vingers

Dag 56 – 59
25 – 28 Februarie 2012
Addis Ababa, Ethiopie

Groot stede bly ‘n nagmerrie. Ons probeer dit so ver as moontlik vermy. Ek sien eintlik op na die uitstappie na Addis. Maar voertuie moet gediens word en visums moet gereel word vir ons reis vorentoe. By Wim’s Holland House, gewild onder oorland- en rugsakreisigers, kry ons darem als wat ons nodig het. Wim en sy vrou het ‘n lekker restaurant; dit spaar ons die stresvolle soektog na ‘n aanvaarbare eetplek in die stad. Boonop het hy  sy eie motorwerkswinkel met motorwerktuigkundiges wat hy self oor die jare opgelei het – al die reisigers praat van die goeie diens.

‘n Uitstappie dorp toe kan geensins as ontspannend beskryf word nie. Die sypaadjies wemel van mense, en met ons bleek velle en ligte hare, is ons ‘n teiken. Kort-kort voel jy hoe daar aan jou rugsak gepeuter word. Na jy jou ore heeldag spits en jou kop soos ‘n soeklig draai, kom jy uitgeput, maar hopelik met al jou besittings tuis.

Ons beplan om die roete langs Turkana Meer na Kenya te volg, advies wat ons van ander reisigers gekry het. Die meer algemene roete deur Moyale, is blykbaar so sleg dat jy letterlik verby gebreekte voertuie langs die pad ry soos hul een vir een die gees gee. Maar daar is geen grenspos aan Kenya se kant langs Turkana Meer nie, en Ethiopie se grenspos in Omarate (ook ‘n hele paar km van die grens af) het ‘n Immigrasie kantoor, maar nie Douane nie. Dit is ‘n probleem aangesien die Carne van die voertuig ‘n offisiele uitvoer stempel nodig het. Om die probleem uit te sorteer, kos ons 7 ure se wag by doane in Addis, waar ons met baie geduld hul oorreed om die Carne te stempel voor ons Addis verlaat.

Die paar dae in Addis is stresvol en frustrend, ons is net te bly wanneer ons visums gereed is en ons weer in die pad kan val.

No comments:

Post a Comment