Dag 66 – 69
6 – 9 Maart 2012
Sibiloi Nasionale Park – Loyangalani – Laisamis – Timau
Kenya
Alhoewel verskillende reisigers se opinies oor sekere dinge, soos byvoorbeeld oor bulljumping, hemelbreed kan verskil, bly inligting oor roetes van mense wat sopas van die rigting af kom waarheen jy oppad is, prysloos. Om die rede is ons oppad na Kenya via die Lake Turkana roete deur Sibiloi Nasionale Park. Die pad is die slegste wat ons nog ervaar het, maar is blykbaar beter as die meer algemene roete deur Moyale.
Aangesien ons reeds (met moeite) uitgang stempels vir die Carnet van die voertuie in Addis gekry het, benodig ons net stempels in ons paspoorte by Omorate, ‘n klein dorpie ver van Kenya se grens af. Hier word ons die eerste keer omgekoop. Alhoewel ons net 30 dae in Ethiopie was, verskil ons mening met die van die amptenaar oor die doel van die visum (wat reeds 8 dae gelede verval het) in my en Peter se paspoorte. ‘n Maand gelede, het die amptenaar op die grens bevestig dat ons 30 dae die land mag besoek, ongeag die feit dat ons visum intussen verval. Die visum is net nodig tot en met die dag wat jy die land wil binnegaan. Maar die amptenare hier het ‘n duidelike geleentheid gesien om geld te maak, en ons laat verstaan die een opsie is om al die pad terug te ry Addis toe om ons visums te verleng, of ons kan hom $200 betaal, dan sal hy ons paspoorte stempel. Hier kan ons nie wen nie, en moet maar opdok om weg te kom.
Die enigste aanduiding dat ons uiteindelik in Kenya is, is die donker grensstrepie op die GPS; verder is daar geen bordjie of grenspos nie. Wanneer ons in Nairobi aankom, sal ons moet aanmeld by Immigrasie.
Ons eerste oornagstop is by die Koobi Fora kampplek in die Sibiloi Nasionale Park. Dit is verlate en stil, met geen ander kampeerders of toeriste in sig nie. Die fasiliteite is darem voldoende en die uitsig oor die Turkana Meer asemrowend.
‘n Aanduiding om nie veel te verwag van Koobi Fora kampplek nie.
Sonsondergang by Turkana Meer
Die volgende dag se ry vorder weer stadig oor die slegte pad. As dit nie vulkaniese rotse is waardeur ons moet kruip nie, is dit sinkplaatpad wat jou tande laat klap. Ons kom na donker by Loyangalani aan, en kry slaapplek op die grasperk van Palm Shade Camp. Ons is dankbaar wanneer die man aanbied om vir ons aandete te maak. Die potte word sommer of die tafel neergesit sodat ons self kan skep; diepgebraaide vis met rys en groente.
Palm Shade Camp
Die volgende oggend pak ons weer op, en met die hulp van inwoners probeer ons vasstel watter roete ons die vinnigste op ‘n hoofpad sal bring. Die moeilike paaie kry ons onder, en ons wil so vinnig as moontlik op ‘n ordentlike pad uitkom.
Peter het sy eerste onderonsie met ‘n snotneusie wat sy bakkie met klippe takel soos ons verby ry. Die seuntjie het nooit gedink dat die bakkie sal stop, of dat Peter sal omdraai en hom jaag nie! Hy en sy maatjies laat spat dat hul voetjies stofwolke om hul opskop. Agter ‘n droee bos, die enigste in die omtrek, skep die arme seuntjie asem, net om te leer dat die bakkie bo-oor droe bossies kan ry! Peter laat hom vir nog ‘n entjie sweet voordat hy hul in vrede laat en wegry. Hopelik sal die seuntjie twee keer dink voor hy weer ‘n klip optel!
Na ‘n lang dag se ry, kom ons by Laisamis aan – ‘n mooi naam vir ‘n dorpie waar jy jouself eerder nie wil bevind nie. Ons het nie mooi gekyk waar ons gaan opeindig of waar daar ordentlike slaapplek is nie. Maar dit is reeds skemer, en die volgende dorpie is te ver, en die pad nog te sleg. In die onooglike gehuggie vind ons darem ‘n omheinde plek waar ons kan kamp opslaan. Ons het ons eie nagwag, maar die se varkies is duidelik nie op hok nie. Hier is nie lopende water nie, en die enigste toilet is so vuil dat ek eerder na donker, agter die sinkplaathut hurk.
Daar was kamers beskikbaar in Laisamis, maar om buite op die grond in ons stowwerige tente te slaap was die skoner opsie.
Na Laisamis hoef ons darem net 20 km sinkplaatpad te ry voor ons uiteindelik op ‘n teerpad kom en heelwat vinniger kan vorder. By Samburu Nasionale Park oorweeg ons om te oornag, maar teen $100 per persoon per nag, ry ons liefs verby. Ons kom op Timau River Lodge af – ‘n snoesige plek in die berge wat lyk of Hansie en Grietjie ook hier kon bly. By die uitsigpunte kan jy die punt van Mount Kenya sien, dis as die wolke nie in die pad is nie.
By Timau River Lodge
Volgende op ons roete is Nairobi.




No comments:
Post a Comment