Dag 70 - 76
10 – 16 Maart 2012
Nairobi, Kenya
Nairobi het my aangenaam verras. Die
gesofistikeerde stad, waar ons ordentlike inkopiewinkels en lekker eetplekke
kry, is verfrissend. Die stad is mooi gemaak, die strate is netjies, en alhoewel
verkeer rof kan raak, gehoorsaam meeste mense die padtekens. In die
residentiele gebiede, alhoewel omheinings maar hoog is, is die mense ernstig
oor tuinmaak en mooi sypaadjies voor hul huise. Hier is ‘n groot westerse
gemeenskap, so vir die eerste keer in ‘n lang tyd is ons nie ‘n teiken nie, en word
ons in vrede gelaat.
By Jungle Junction kamp ons vir
spotgoedkoop. Ons kan die groot huis se gemaklike sitkamer, eetkamer en kombuis
gebruik terwyl ons buite op die grasperk kamp. Al die resigers kuier saam soos
‘n groot familie.
Terwyl ek en Peter die spyskaart van
ArtCafe bestudeer – die weie verskeidenheid is intimiderend – spoor Peter sy ou
vriend op wat 10 jaar gelede in Nairobi gewerk het, en toevallig op ‘n vlug
hierheen oppad is. Mike sorg vir goeie geselskap, en ken al die lekker
restaurante.
In die middestad moet ons by Immigrasie
kantoor aanmeld om toegang stempels in ons paspoorte te kry (aangesien daar
geen grenspos was waar ons deurgery het nie), die kar moet gediens word, en dan
moet ek ook aansoek doen vir ‘n visum na Rwanda. Maar anders as dit het ons
hope tyd om te ontspan en die gesofistikeerdheid van Nairobi te geniet.
Om mak kameelperde te voer by die
Kameelperd Sentrum was definitief ‘n hoogtepunt. Jy kry ‘n handvol
hondepilletjies wat jy een vir een uithou sodat die kameelperd dit met sy lang
tong oplek. Hy gee ook nie om as jy sy lang nek omhels nie. Dis bietjie van ‘n
stryd met al die ander toeriste, maar waar anders kan jy ‘n kameelperd se kop
vryf?
Kameelperd vrek oor ‘n
hondepilletjie
Baba kameelperdjie kom nog nie
lekker by die tweede vloer uit om gevoer te word nie.
By die David Sheldrick Wildlife Trust se sentrum
vir wees-olifantjies, kan ons aanskou hoe die baba grootvoete gevoer word. Aangesien hul eendag moet teruggaan veld toe, mag toeriste net 1 uur
per dag hul besoek.
Wanneer hul klaar ‘n
bottel melk gedrink het, is dit speeltyd. ‘n Lekker modderbad en takke
rondsleep is in orde.
Na ‘n week in Nairobi, pak ons weer op en
pak die lang pad aan.







No comments:
Post a Comment