Dag 31 – 32
31 Jan – 1 Feb 2012
Wadi Halfa, Sudan
Dou voor dag word ons wakker op die veerboot. Ons bewonder die massiewe tempel op die rivierbank by Abu Simbel wat ons net-net in die oggendlig kan sien. Ons kry ons paspoorte gestempel en reistoestemming ingevul deur die loop van die oggend op die veerboot.
Met ons aankoms in Wadi Halfa, boek ons saam met die res van die oorlandreisigers by Kilopatra hotel in, die beste in die dorp. Dit haal skaars een ster, maar die beddens met papierdun matrassies, badkamers (wat almal deel) en ‘n koue straal druppels vir ‘n stort is genoeg om te oorleef.
Ek moet gou leer om met my grootste nagmerrie te leef: hurk-toilette! ‘n Gat in die grond, met twee verhewe plekkies vir jou voete om wydsbeen oor die gat te hurk. Aaklig. Hierdie een kan darem spoel. Jy mag ook nie jou gebruikte toiletpapier in die gat gooi nie. Die hoort in die drommetjie langsaan.
Kilopatra Hotel is die een met die geel deure agter die blou-grys gebou in die middel.
By die eerste beste eetplek, moet ons met die vliee baklei vir ons middagete. Die kos is verbasend lekker, as jy ignoreer hoe enige oorskiet vleis van die tafel teruggegooi word in die swarma mengsel, en hoe die pita broodjies met vuilerige hande op die taai toonbank hanteer word. Die felafels met branderige sous, swarma’s en fhuul ('n tipe rooiboontjiebredie) is ons stapelvoedsel vir die volgende drie dae. Geroosterde hoender is ook gewoonlik ‘n veilige keuse is.
Ons gunstelling eetplek
Ons is ‘n lekker groep reisigers wat vir twee nagte moet wag vir ons voertuie. Die geselskap maak die wag heelwat meer aangenaam. Eers moet ons voldoen aan Sudan se vele administratiewe vereistes. Na ons registreer as buitelanders, moet ons ook fotopermitte kry voor ons mag fotos neem.
Ons kuier die tyd om op die gesellige sypaadjies. Die inwoners kom hier saam om sheesha te rook, tee te drink en te eet. In die aande word die klein TV op die sypaadjie aangesit en die sitplekke word gou opgeneem om WWE te kyk.
Die volgende dag stap ons al langs die meer, die groen mos en fyn grassies verdwaal in die krake van die woestyn.
Groen gras groei daar waar bietjie water is
Langoor in die landerye naby die meer
Gestrande boot in die middel van die woestyn
Die nedersetting daar naby, se vaal modder hutte is gekamoefleer in die woestyn. Die kindertjies kom nuuskierig nader en daag mekaar uit om aan ons te raak. Hul skaterlag wanneer jy hul handjies skud en hardloop dan vinnig weg. Die fraaie dames is bont geklee in vrolike vloeiende lappe, soos skoenlappers in die woestyn. Hul sit in stilte teen die hut en hou die kinders dop. Die klein dogtertjies om hul voete, skaars 5 jaar oud, het elk ‘n baba op die heup, boeties en sussies wat hul help oppas.
Die vroue dra die mooiste gekleurde lappe
Darren vermaak die kindertjies
Die aand voor ons ry, durf ons die koppie aan om die sonsondergang te sien. Die son sak te vroeg agter die stofwolk in die verte, maar die uitsig bly mooi. Wadi Halfa strek verder as wat ons gedink het. In die stilte luister ons na die hoenders in die verte, die donkies wat bulk, en ‘n toektoek wat onder in die hoofpad aangejaag kom.
Uitsig van die koppie – Wadi Halfa se hoofstraat
Dis so ‘n eenvoudige, rustige lewe, dit laat jou wonder hoekom jou eie so bedrywig en gekompliseerd is.









No comments:
Post a Comment